Gedagte vir die dag | Vrydag 22 Oktober 2021

Ps.131:2,3. “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.  Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”

Een van my kinders woon in Londen en ek dink gereeld na oor die verhaaltjie van die terneergedrukte Engelsman wat eenkeer vertel het dat hy op ’n aand in Londen gevoel het asof alles net te veel word. Sy huislike omstandighede was sleg, hy het probleme by die werk ondervind en boonop ‘n oortrokke bankrekening gehad.  Hy het toe besluit om ’n einde aan sy lewe te maak.  Die maklikste uitweg was om van die Victoriabrug in die Teemsrivier te spring.  En so het hy toe teen middernag tot in die middel  van die brug geloop en daar langs die tralies gereed gemaak vir die groot sprong.  Maar die volgende oomblik het ’n vriendelike Londense polisieman hom aan die arm aangeraak en hom gevra waarom hy ’n einde aan sy lewe wil maak?

Die polisiebeampte sê toe vir hom dat hy bereid is om vir vyf minute na sy redes te luister, maar dan moet hy bereid wees om weer vir vyf minute na die redes, hoekom hy dit nie moet doen nie, te luister.  Die terneergedrukte ou het ingestem en oor al sy beproewings en moeilikhede gepraat en bygevoeg dat sy politieke party boonop ook die verkiesing verloor het. Hy het sy droewige lot met soveel oorgawe vertel dat die polisieman hom aan die hand gevat het en sommer saam met hom in die Teems gespring het. Dit is net ’n storie, maar hierdie is ’n bewys van hoe ons mekaar in die afgrond en moedeloosheid kan inpraat.

Net deur voortdurend te praat oor hoe treurig dit met jou, die land of die toestand van ons paaie gaan.  Daar is talle voorbeelde hiervan in die Bybel.  Dink net aan Dawid se neerslagtigheid toe sy seun Absolom teen hom in opstand gekom het.  In 2 Samuel 15:30 lees ons: “Dawid het die Olyfberg huil-huil uitgeklim en as teken van sy droefheid was sy kop toegemaak en het hy kaalvoet geloop.  Almal wat by hom was, het ook hulle koppe toegemaak en huil-huil die helling uitgeklim.”  Baie van die seer en die swaar is eg.

As predikant is ’n mens bevoorreg om by mense se lewens betrokke te wees en saam met hulle swaarkry en moeilike tye te beleef.  Die vraag bly steeds – hoe beïnvloed ons mense wat saam met ons is.  Miskien moet ons weer oor Jesus se woorde, wat hy tydens die storm aan die dissipels gesê het, nadink: “Waarom is julle so bang? Het julle dan nie geloof nie?” Ek is lief vir die gesegde: “I am part of everybody I meet”.

Hoe smeer ons aan mekaar af?  Met geloof, hoop en positiewe denke.  Met ons geloof in God en ons positiewe gesindheid kan die wêreld en mense om ons verander.  Daar kan vrede posvat te midde van onrus en selfs ’n glimlag waar daar trane is. Mag die Here vir my en jou die genade bied om mense met deernis en liefde te omarm en vir hulle met moed te vul.

Gebed

Here, dankie dat ons in die soms donker, pessimistiese wêreld u lig kan bring.  Gee dat ons dit vandag sal doen.

Amen