Vandag is Vrydag 21 Julie en ons dink die week ’n bietjie na oor ons gebedslewe. Hierdie komende naweek wat voorlê is ons meer as 30 mans wat tyd saam gaan spandeer by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum in Wellington. Die sentrum van spiritualiteit is ’n gemeenskap van stilte, afsondering en gebed waar ons mekaar nooi om tot rus te kom en ons wortels in Christus te ontdek. Ons gaan hierdie week elke oggend ons refleksie oor gebed begin met die volgende aanhaling en uitnodiging van Andrew Murray:
“May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence. And not a moment without the entire surrender of myself as a vessel for Him to fill full of His Spirit and his Love”.
Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:
- Hoe sal jy God se teenwoordigheid beskryf in jou lewe?
- Waarna toe nooi die Gees van God jou uit?
Kom ons luister na Jesaja 55:9 “…Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my gedagtes (hoër) as julle gedagtes.”
Hierdie moet dus ons gebed wees . . . dat God deur die Heilige Gees aan ons sal wys wat nog nie in ons hart opgekom het om te oordink nie. Meestal tussen ons soeke het ons maar ’n gebrekkige begrip, maar God kan vir ons betekenis oor Sy gedagtegang openbaar. Andrew Murray sê dat ons twee lesse behoort te leer, die een van onkunde, die ander van verwagting. Ons moet leer om na die woord te kom soos klein kindertjies. Jesus het gesê: U het hierdie dinge verberg vir wyse en verstandige mense en dit aan klein kindertjies geopenbaar. Mag ons dus saam aanhou soek na God se wil en openbaring in ons lewens. Filippense 1:9-11 sê: Ek bid dat julle nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waarop dit aankom te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ’n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God.
Gebed: Here, ons smag en dors na U. Mag ons geduldig wag op U. Neem besit van ons hart en wys ons U gedagtes.
Amen.