Dit is belangrik om ons denke te ondersoek, want dit is duidelik dat ons denke ’n groot invloed op ons leefwêreld het. Daarom wil ons in hierdie dagstukkies nadink oor hoe ons dink sodat ons kan nuut dink oor die lewe. Luister saam met ons en dink nuut oor jou lewe . . .
Om nuut te dink beteken dat ons ons gedagtewêreld moet reining van gedagtes wat ons leefwêreld negatief beïnvloed. Ons wêreld het met tegnologie, sosiale media en bemarking al baie verander en dit het al ons denke gevange begin hou. Ons sien die wêreld deur die pen van die joernalis, of die rekenaarskerm van die skrywer. ’n Onlangse studie deur The Economist het bepaal dat Amerika nog nooit so gepolariseerd was soos tans nie. Selfs Suid-Afrikaanse studies bevestig ook die tendens. Wanneer ons dink aan die kerk weet ons ook dat binne ons eie kerktradisie is ons verdeeld.
Die media en sosiale media speel ’n groot rol. Dit dwing ons om die vraag te vra: Waarna luister ons regtig? Word ons gedagtes soms gevange gehou deur die denke van ander?
Paulus skryf in 2 Korintiërs 10 die volgende: “Natuurlik leef ons in ’n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.”
Paulus skryf juis oor hoe gevaarlik dit is as ons gedagtes deur die verkeerde goed gevange gehou word. Paulus beskryf dit in oorlogstaal deur te sê wapens is nie eens so kragtig soos die gedagtes van ’n mens nie. Dit is duidelik dat ons versigtig moet wees dat negatiewe nuus nie ons gedagtes gevange moet hou nie. Paulus sê dat ons gedagtes aan Christus gehoorsaam moet wees.
Paulus sê vir ons dat ons, ons gedagtes moet skoon maak sodat dit nie gevange deur verkeerde stemme gevange gehou word nie.
Dink na oor wat jy in neem, wat jy lees en waarna jy kyk. Het dit dalk tyd geword dat jy dit wat jou gedagtes gevange hou anders moet benader?
Gebed
Here, ons bid dat U ons gedagtes sal kom saamvat sodat ons nie sal luister na stemme wat ons lei om die koninkryk van God af te breek nie, maar eerder die stem wat die koninkryk op bou. Dankie Here, vir u liefde en genade.
Amen