Gedagte vir die dag | Vrydag 2 Oktober 2020

Filippense 2: 12-13.My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer”.

Die afgelope week het ons Erfenisdag, (of soos dit vertaal word: “Braaidag”) gevier. As ons so bietjie deur die braaivleisrook en braaivleisgeure dieper na ons erfenis kyk, dan besef ons hoe ryk ons eintlik geërf het! Ek praat nie van ons materiële erfenis in die vorm van besittings nie, maar veral ons erfenis as gelowiges. Op Erfenisdag het 20 manne van ons mannegebedsgroep reeds om 06:00 in die oggend saamgekom. Ons het ’n groot vuur gemaak in die braai-area van die markplein, lekker boerewors gebraai, saam geëet en toe gedink, gepraat en gebid oor ons geestelike erfenis.

Die grootste deel van ons geestelike erfenis, is dat Jesus deur Sy onbaatsugtige verlossingswerk, vir ons verlossing bewerkstellig het. Wat ’n wonderlike erfenis . . . ons verlossing!  Bewerk, en nagelaat deur ons Verlosser.  Ons status het verander van skuldiges,  as gevolg van sonde, na verlostes.

In die teksgedeelte van vandag, doen Paulus ’n ernstige beroep op gelowiges om nou volgens hul verloste status te leef. Hy is baie direk en ernstig daaroor as hy in vers 12 sê: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe”. Dit is een ding om ons verloste status te erf, maar dis iets anders om daarvolgens te lewe en praktiese, sigbare, verloste lewens te lei.

Dit verg dat ons gehoorsaam sal wees aan alles wat Jesus van ons vra rakende ons lewenstandaard, ons uitkyk op die lewe en ons onberispelike optrede onder alle omstandighede. Dit impliseer ook dat ons daagliks moeite moet doen om volgens God se wil te lewe.

Is ons vandag nog regtig opgewonde oor hierdie erflating? Is ons met eerbied en ontsag daarop toegespits om as verloste mense ook in hierdie uitdagende wêreld te leef?

Gebed

Dankie Here, dat ons erfgename kan wees van dit wat U bewerk het. Help ons om gehoorsaam te wees aan U wil, en dat ons ons daarop sal toelê om as verloste mense te kan leef. Amen.