Gedagte vir die dag | Vrydag 19 Mei 2023

Matteus 9:10-12. 10Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet. 11Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: “Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?” 12Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.

GEDAGTE

Die tipe mense wat Jesus as sy vriende aanvaar het, het beslis nie die goedkeuring van die godsdiensleiers van sy tyd gehad nie. Jesus reik uit na sondaars, tollenaars, prostitute en Samaritane.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes is beswaard . . . hulle murmureer.  Hulle rede? Omdat Jesus met sondaars meng en selfs saam met hulle eet. Sê Psalm 1 dan nie “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van die goddeloses volg nie, NIE MET SONDAARS OMGAAN en met ligsinniges saamspan nie”? Sê die spreekwoord dan nie: “Meng jou met die semels dan vreet die varke jou,” nie

God het ’n brandende begeerte om die wat verlore is, te red.

In hierdie gedeelte sien ons vir Jesus, die vriend van sondaars, waar Hy na iemand uitreik wat sosiaal verwerp en geestelik ongesond is.

Jesus was ’n vriend vir sondaars. Hy reik uit na diegene wat sosiaal verwerp is; Hy genees diegene wat geestelik siek is; Hy versorg hulle en spandeer tyd saam met hulle; Hy het hulle liefgehad. As dit waar is van ons Meester, moet dit nie ook waar wees van ons nie.

Dan is dit ook ’n boodskap vir jou en vir my. Jesus aanvaar ons ook net soos ons is. Hy maak ons nuut en herstel die beeld wat sonde afgebreek het.  Kom na Hom net soos jy is – Hy sal jou nuut maak.

GEBED

Hemelse God en Vader dankie dat U hart oop is vir sondaars. Dat U hulle vergewe en nuut maak. Hier is ek ook.

Amen