Openbaring 3:15-16: “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.”
Vandag hanteer ons ’n baie interessante keuse. Dit is ’n keuse met drie moontlikhede: koud, lou, of warm. Dit klink amper soos die verstelling van lugversorging na die temperatuur van jou keuse. Ek het die vermoë om die knoppie te draai, deur die keuse wat ek maak.
By die gemeente se mannegebedsgroep het ons die afgelope tyd baie hieroor gepraat. (Ek wil sommer ook van die geleentheid gebruik maak om al die manne uit te nooi om in hierdie besondere belewenis, elke Donderdagoggend 18:00, te kom deel). Ons tema die afgelope paar weke was: “Wat is jou geestelike temperatuur?” Ons het ’n prentjie op ons notas van die Covid-19-protokol se termometer wat oral gebruik word. Ons gebruik ook hierdie teks om te sê daar is verskillende moontlikhede rakende ’n mens se geestelike temperatuur en toewyding aan God. Die aanduiders hiervan is my liefde vir God, my geloof in God, my gehoorsaamheid, gebed en diens.
Wat tog interessant is, is dat ’n mens self ’n keuse hierin het. ’n Mens draai self die knoppie om die temperatuur te bepaal en kan eintlik kies wat die uitkoms van die lesing gaan wees – warm, lou of koud? Dit is soos geestelike dissiplines, waar ek moet besluit hoe ek daaraan aandag gaan gee. Besluite oor my stilwordtye, my kwaliteittyd in God se woord, my diensbaarheid aan ander, ens.
Ons weet tog: Elke besluit of keuse, het ’n gevolg – ook in my geestelike lewe! As ek kies om baie min, of geen tyd aan my toewyding aan God te spandeer, my gebedslewe af te skeep, ens. sal dit op my geestelike termometer reflekteer en andersom ook.
Ook in hierdie teks, soos in vorige tekste waarna ons al gedurende hierdie week gekyk het, wil die skrywer ons aanmoedig om die regte keuse te maak. Om daaglikse keuses te maak oor hoe die kwaliteit van my geestelike oefenprogram moet lyk. Jesus verlang uiteraard dat ons “warm” moet wees, geestelik fiks moet wees, werklik toegewy aan Hom moet wees en naby aan Hom moet wees. Hoe ons met Hom praat, na Hom luister en hoe ons Hom dien?
’n Goeie vragie vandag: Hoe lyk jou lesing?
Gebed
Here die druk om ons raak so groot om gemiddelde mense te wees, met gemiddelde toewyding, lou geestelike temperatuur, omdat ons daagliks ’n klomp kompromieë met wêreldse standaarde maak. Help my om fiks te wees en warm te wees in my verhouding met U.
Amen