Klaaglied 3:18-22. “Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my. Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop. Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.”
Hoeveel keer het jy al in jou lewe by hierdie punt uitgekom – tye en plekke waar jy voel jy is besig om te verdrink en dat die lewe vir jou op daardie punt gaan eindig. Ons is mos van kleins af mooi geleer dat jy nie as gelowige moet kla nie, maar eerder uit dankbaarheid moet leef. Dit is miskien die rede hoekom jy nooit van nature na die boek Klaagliedere sal blaai vir inspirasie nie. Tog, leer die Bybel ons in Klaagliedere, Job en die Psalms dat ons klagtes ‘n baie belangrike deel van ons geestelike lewens is. Ek wil jou daarom op hierdie dag vra om eerlik die dinge wat jou in die lewe oorweldig voor die Here te bely. Om sonder enige voorgee en spontaan jou hartseer, angs en spanning aan die Here oor te gee in die woorde van die volgende gebed
Gebed
Here, beïndig hierdie winter waarin my siel vasgevang sit. Laat my weet dat die lente op pad is. Here, ek kan myself nie opgewek kry uit die doodsheid wat ek nou beleef nie. Maar ek weet dat U kan – soos wat U al vele kere mense laat opstaan het uit die dood. Die feit dat ek nou al my klagtes voor U kan kom lê is ‘n bewys dat hierdie oomblik vandag nie die einde is nie. Dankie dat wanneer ek nou na hierdie gebed my oë oopmaak ek enige iets wat in hierdie dag vir my voorlê sal kan hanteer.
AMEN.