Ons teksvers van Rus vandag is Psalm 32:8 “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou” en Psalm 22:3 “My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.”
Ons leef eintlik maar almal tussen tye van “die Here het gepraat” en “as die Here tog maar net wil praat”. Dalk lê ons spanning juis in ons daaglikse onvermoë om ten volle te glo en te vertrou. Daarom ervaar ons soms onrus in plaas van rus in Hom. Om te sê “God haal ook asem” is om te sê: “God Leef!”. Maar dis een ding om te hoor dat God leef en ‘n ander om saam met Hom te leef.
Mag jy vandag ware rus beleef deur saam met Hom te leef en op Hom te vertrou om vir jou die pad te wys.
Gebed geïnspireer deur ’n Anglikaanse Priester, Eric Milner-White:
Heilige Gees van God, kom beweeg tussen ons. Kom as wind en reinig ons; kom as vuur en suiwer ons; kom as reën en verkwik ons. Wy ons harte en lewens aan U vir ons eie welsyn en tot U verheerliking.
Amen