1 Samuel 4:1-11: “Samuel se woorde was aan die hele Israel gerig. Op ‘n keer het Israel teen die Filistyne gaan oorlog maak. Die Israeliete het by Eben-Haeser kamp opgeslaan, en die Filistyne by Afek. Hulle het hulle leër teenoor Israel laat stelling inneem, en toe die geveg ontplooi is, is Israel deur die Filistyne verslaan. Hulle het omtrent 4 000 manne op die slagveld afgemaai. Toe die manskappe van Israel in die laer kom, het die leiers gesê: “Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red uit die greep van ons vyande.”
Dan lees ons in die volgende gedeeltes dat hulle die ark gaan haal het, en toe hoor hulle in vers 6: Die Filistyne het die geskreeu gehoor en gevra: ‘Wat vir ‘n geskreeu is dit daar in die laer van die Hebreërs?’
Die Filistyne het toe uitgevind dat die ark van die Here in die kamp aangekom het. Hulle het bang geword, want hulle het gesê: ‘God het in die kamp gekom’. Verder het hulle gesê: ‘Dis klaar met ons, want so iets het nog nooit gebeur nie. Dis klaar met ons! Wie sal ons red uit die mag van hierdie geweldige God? Dit is dié God deur wie die Egiptenaars in die woestyn getref is met allerhande plae. Nou sal julle moet dapper wees! Gedra julle soos manne, Filistyne, sodat julle nie miskien slawe word van die Hebreërs soos hulle júlle slawe was nie. Gedra julle soos manne en veg!’
Hierna het die Filistyne gaan veg, en die Israeliete is weer verslaan. Hulle het gevlug, elkeen na sy woonplek toe. Daar was ‘n baie groot slagting, dertig duisend voetsoldate van Israel het geval. 11Die ark van God is ook gevat, en Eli se twee seuns Hofni en Pinehas het omgekom.”
Gedagte:
Om aan te sluit by gister se dagstuk het ek weer nagedink oor hoe ons God verloor, en hoe God in die kerk ook kan weg raak. Ek het destyds die aanhaling van Lenny Bruce in een van Ferinand Deist se boeke gelees: “Everyday people are staying away from the church and going back to God.”
Ons bespiegel baie in hierdie tyd oor hoe die kerk in die toekoms en veral na die Covid-19-pandemie gaan lyk. Ons kan ons verbeel dat God tussen ons is, net omdat ons die kerk is. Maar dis ’n ou fout van die kerk, die Israeliete het hulle dikwels met die soort van verbeeldingsgeloof misgis. Dit was so toe hulle gereken het die ark verseker God se teenwoordigheid. Ek het die gedeelte in Samuel 4 gelees, en hulle het gedink dat as die ark nou hier is, en by ons, dan is dit nie waar God se teenwoordigheid gestalte kry nie.
Ook in Jeremia 7, as jy lees vanaf vers1-15, het hulle ook gereken dat God is in sy tempel is en het hulle gedink die tempel roep hulle na God toe. Wanneer ons nie kerk is nie en nie God se werk doen nie en Hy nie in ons handel en wandel teenwoordig is nie het Hy geen ander keuse as om op ’n ander manier sy werk te doen nie. Dis vreeslik om te sê, maar dan doen Hy dit sonder ons. Want sy werk moet gedoen word, met of sonder ons.
Ons moet nie dink God is tussen ons, net omdat ons ’n gemeente is, of omdat ons aan die kerk behoort, of omdat ons ’n kerkgebou het nie. Ons sien juis dat dit soms van die redes is waarom mense die kerk verlaat. Want hulle sien nie meer God tussen ons nie. Waar gaan hierdie mense dan heen as hulle van ons weg gaan? Daar is inderdaad mense wat sê hulle is klaar met ons, en verkies om na God terug te keer, weg van die Kerk af. Wat doen ek en jy dan? Is ons werklik nog in diens van God?
Gebed:
Here help ons om gestalte te gee aan u liefde en aan u liggaam, sodat hulle vir Jesus Christus, die lewendige God in ons lewens kan sien.
Amen.