Gedagte vir die dag | Vrydag 17 September 2021

1 Johannes  3:20.  As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.

Het jou gewete jou al gepla? Dit gebeur gereeld en as dit nie die geval is nie is daar rede om bekommerd te wees. Die Heilige Gees  maak ’n mens juis deur middel van jou gewete sensitief om aan die dinge aandag te gee wat ’n mens andersins sou ignoreer het. Dit help ons om reg te maak en heel te maak waar ons en ander fouteer het. Dit bring ons in aksie en stel ons in staat om verandering teweeg te bring. Dit bring in jou die rus van God se vergifnis wat jou vryspreek.

Maar ’n mens se gewete het ook die vermoë om jou voortdurend aan te kla, te veroordeel en stelselmatig jou en ander se menswees af te breek. Dit kan jou passief maak en die bergplek raak van allerhande negatiewe emosies.  Ons is nie perfekte mense nie. Paulus sê in Romeine 3:23, dat ons almal gesondig het en dan ver van God is, maar dat ons sonder dat ons dit verdien en slegs op grond van God se genade, vrygespreek word. God is groter as jou sonde en skuld, maar ook as jou gewete wat jou aankla. Dit is soms maklik om jou sonde en skuld te bely, maar veel moeiliker om te aanvaar dat God jou vergewe. Weet verseker – God is groter as jou gewete en Hy weet wat in jou hart leef.

Gebed

Here, dankie vir die wete dat U Gees my gewete deurgrond.  Daar is so baie dinge wat in hierdie oggend deur my gedagtes spoel en my aankla.  Dit maak my my bang.  Omvou vandag die gedagtes wat in my leef en bring vrede en rus in my gemoed.  Dankie vir U vergifnis in hierdie oggend.  Dit inspireer my om vandag anders te leef en ander te vergewe. Amen.