Efesiërs 3:16-17. Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
Hoe antwoord jy wanneer mense jou vra: “Hoe gaan dit?” Ons almal reageer klokslag met: “Goed dankie”. Die antwoord is dikwels ver verwyder van die realiteite van ons daaglikse bestaan. Terwyl ons uiterlik sterk voorkom leef ons innerlik onder die druk en spanning van dinge waarmee ons worstel en waarvan mense om ons onbewus is. Paulus herinner ons dat die Heilige Gees vanuit God se rykdom in ons werk om ons innerlik sterk te maak. Hierdie is ’n wonderlike troos omdat niks vandag eers om jou hoef te verander alvorens jy deel kan hê in hierdie krag nie. Beleef vandag hierdie realiteit van jou geloof wat jou angstigheid en frustrasie omvorm sodat jy met liefde tussen mense kan leef.
Gebed
Here, U wat Noag oor die diepe waters begelei het, hoor my. U wat Jona uit die dieptes gered het, verlos my. U wat u hand na Petrus wat in die water weggesink het uitgesteek het, help ook vir my. Dit voel of ek vandag innerlik besig is om onder die druk van dinge in my lewe te verdrink. Blaas vandag deur u Gees in my die lewensasem om te midde van dinge wat om my gebeur met vrede en liefde tussen ander te leef.
Amen.