Gedagte vir die dag | Vrydag 17 Desember 2021

 

Ek wonder baie keer of ons ouers geweet het wat ons name beteken voordat hulle dit vir ons gee. Ek weet dat ek my pa se familienaam dra en dat daar iets van my pa se naam in my naam is. Ek het my naam nageslaan en gevind dat Hanno beteken God is genadig.

Nou of dit werklik die stam betekenis van my naam is, sal ek nie weet nie.  Maar die naam wat die engel vir Maria gee om die verlosser van die wêreld te noem is “Immanuel” kom ons lees saam:

Matteus 1:22-2522Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:23“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.”  Die naam beteken God by ons. 24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

Die naam Jesus kom van die Hebreeuse stam Yeshua af, wat beteken om te red. Dit bly altyd vir my spesiaal dat God kies om na ons toe te kom as die een wat SAAM MET ONS IS. Met ander woorde die een wat in ons situasie kom inklim, die een wat mens word en in ons skoene kom klim. En dan boonop die naam Jesus kry om as die redder gesien te word wat die wêreld op hierdie manier sal kom verlos.

God wys eintlik vir ons dat verlossing net gebeur as ons BY MEKAAR IS. Ons kan nie ander help as ons nie bereid is om BY HULLE te wees nie. Ek voel dat Kersfees ons juis moet nooi om SAAM MET ANDER te wees, om juis met die wat nie het nie, of wat sukkel, wat worstel asook die wat het saam te wees want so bring dit ’n stuk verlossing.

Kersfees is nie een boom nie, maar eintlik ’n woud wat saam gewortel is.

Mag jy in hierdie Kersfees nie alleen vier wie God is nie, mag jy besef dat verlossing kom na ons toe en is MET ONS en gebeur wanneer ons SAAM MET ander is.

 

Gebed:

Here, dankie dat U by ons is. Dankie dat ons U verlossing in ons eie skoene kan beleef. Dankie dat ons nie iemand anders hoef te wees, te word of voor te gee om U verlossing te beleef nie. U genade is grooter as wat ons kan besef.

Amen.