Gedagte vir die dag | Vrydag 16 Oktober 2020

Efesiers 2:13 “Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus.

Eugene Peterson vertel in sy boek “To run with the horses”,  van die volgende ervaring uit sy kinderdae. Op skool was hy die jongste en ook die kleinste in sy klas. So wanneer hulle informele spansport sou speel en die twee spankapteins om die beurt hulle spanne moes selekteer, het hy gewoonlik heel laaste eers plek in ’n span gekry.

Eendag hoor hy hoe die twee spankapteins stry en besef toe met afgryse dat nie een van die kapteins hom in hulle span wou hê nie en dat dít die oorsaak vir die stryery was.  In sy eie woorde vertel hy hoe sy selfbeeld daardie dag in ’n oomblik verander het “from a zero to a minus”.

Ons skuld oor ons sondelas wil ons ook van ’n nul na ’n minus druk totdat ons minder as niks is nie. Maar ons teks verkondig aan ons die wonderlike boodskap dat ons een met Christus geword het op grond van sy bloed. Hy het die skuld vir ons sonde betaal en daarom kan ons kinders van God genoem word. Ons het waarde.  Ons is beslis nie ’n minus nie.

Dit het alles met die vorming van die nuwe identiteit in Christus te doen. Op grond van Christus se werk in jou lewe, durf jy nie langer aan jouself as ’n verlore mens dink nie. Christus het jou verander, jy is ‘n nuwe mens. Jy het waarde!

Die drie-enige God se aktiewe betrokkenheid in ons lewens maak van ons nuwe mense. Dit gebeur deur:

  • Die bloed van Christus wat ons tot by God bring.
  • Christus wat sy lewe vir ons gegee het.
  • Christus wat ons deel van die volk van God maak.

GEBED

Neem my lewe laat dit Heer

U gewy wees meer en meer

Laat my hart gedurig juig

En van dankbaarheid getuig