Teksgedeelte: Johannes 1. “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”
Die storie van Advent begin soos elke jaar altyd in die donker. Meeste van ons is ongemaklik met die donker, met die onbekende en dit wat ons nie duidelik kan sien nie. Baie van ons storm gewoonlik eerder by die donker verby na die veiligheid en voorspelbaarheid van die lig. Maar Advent herinner ons dat die goed in die lewe wat die moeite werd is om voor te wag, gewoonlik gevorm en gemaak word in die donker. Dis moeilik vir ons om te hoor, veral in ’n wêreld wat soveel waarde heg aan die wenstreep, ’n eindproduk en kortpaaie. Adventtyd herinner ons aan die heiligheid van die goed in die lewe wat nog onvoltooid is, wat nog in wording is. Soos saad wat diep onder die grond in die donker wag vir die volgende seisoen. Advent herinner ons aan die geskenk van wag. En dan om te wag op God. Te wag op die Lig wat stadig deurbreek. Dat alhoewel die donker soms oorweldigend voel, dit juis in die donker is, waar daar iets mooi en goed besig is om gevorm te word. Iets wat wag om gebore te word