Vandag reflekteer ons oor ’n lofgebed. Dit hou verband met ’n gebed van dankbaarheid, maar anders as ’n dankgebed wat vir iets spesifiek dankie sê, is ’n lofgebed dikwels ’n gebed van dankbaarheid ten spyte van omstandighede. Habakuk 3:17-18 is ’n voorbeeld hiervan:
Habakuk 3:17-18
Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.
Refleksie
Die wetenskap leer ons dat een van die belangrikste faktore van gesondheid en geluk, ’n lewe van dankbaarheid is. Dankbare mense is gelukkiger en gesonder as ondankbare mense. Selfs as jy ’n aaklige dag beleef, kan jy jou dag onmiddellik verbeter deur vir iemand dankie te sê. En jy maak hopelik daardie persoon se dag ook sommer beter!
Om uit dankbaarheid te leef of ’n gebed van dankbaarheid te bid, is om te besef dat alles ’n geskenk is.
Daar is ’n mooi oefening in terapie of meditasie wat ’n bewustheid-ondersoek genoem word, wat elke dag beoefen kan word. Daar is verskillende voorbeelde, maar een van die bekendes is om vyf dinge te identifiseer waarvoor jy vandag dankbaar is en dit neer te skryf of vir die Here dankie te sê daarvoor. Dit help ons om ’n lewe van dankbaarheid te kweek, maar ook om te sien, maak nie saak hoe aaklig jou dag was nie, dat jy nog dankbaar kan wees.
Reflekteer vandag oor waaroor jy dankbaar is. Jy kan selfs die stap neem en ’n boekie kry waarin jy elke dag ’n dankbaarheid joernaal kan hou.
Neem nou ’n oomblik om in gebed met die Here te deel waarvoor jy vandag dankbaar is. Dit kan net een ding wees, maar probeer dankie sê vir 5 dinge waarvoor jy vandag dankbaar is.