Johannes 10:10. ” ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
Die woord “oorvloedig” is in Grieks “perisson” en beteken “oorvloediglik, baie hoog, uitermate, meer, oortollig, of ’n hoeveelheid só oorvloedig en om aansienlik meer te wees as wat iemand sal verwag of voorstel.” In kort, Jesus belowe ons ’n baie beter lewe as wat ons ooit onsself kan voorstel,
Voordat ons begin om visioene te kry van luukse huise, duur motors, wêreldwye seevaarte en baie meer geld as wat ons weet wat om daarmee te doen, moet ons stil word en dink wat Jesus leer aangaande die oorvloedige lewe. Die Bybel sê dat rykdom, aansien, posisie en mag in hierdie wêreld nie God se prioriteite vir ons is nie. Dit is dan duidelik dat die oorvloedige lewe nie bestaan uit ’n oorvloed van materiële dinge nie. Wat word dan met ’n oorvloedige lewe bedoel?
Alhoewel ons van nature begerig is na materiële dinge, moet ons as Christene se perspektief op die lewe totaal hervorm word. Net soos ons nuwe skepsels word wanneer ons by Christus uitkom, so moet ons begrip van “oorvloedig” getransformeer word. Die werklike oorvloedige lewe bestaan uit ’n oorvloed van liefde, blydskap, vrede en die res van die vrug van die Gees. Nie noodwendig ’n oorvloed van besittings nie. Dit bestaan uit ’n lewe wat ewig is en dus is ons belangstelling gerig op die ewige, nie die tydelike nie.
Die Here begeer ’n persoonlike verhouding met elke mens op aarde. Dit is die oorvloedige lewe waarvan Hy hier praat. Hierdie oorvloedige lewe is beskikbaar vir elkeen wat dit begeer. Al wat jy moet doen is om te sê: “Hier is ek Here, ek besef ek is ’n sondaar en dat ek ’n Redder nodig het. Ek bely dat Jesus Christus aan die kruis ook vir my gesterf het en opgestaan het op die derde dag en opgevaar het na die hemel. Ek nooi U nou om in my hart te kom en vra dat U Koning sal word van my lewe. Vul my met u Heilige Gees en lei my van hierdie dag verder.”
So, ’n oorvloedige lewe begin met ’n persoonlike verhouding met God. Die oomblik wanneer jy jou hart vir die Here gee, word jou gees vernuwe en erf jy die oorvloedige lewe waarvan Jesus praat.
GEBED
Almagtige God, skenk aan my die lewe in oorvloed waarvan Jesus die bron is.