Gedagte vir die dag | Vrydag 15 Januarie 2021

Psalm 131:1.  “Here ek is nie meer hoogmoedig nie, ek sien nie neer op ander nie.  Ek pak nie dinge aan wat heeltemal bo my vermoë is, of heeltemal onmoontlik is nie.

Professor Willie Jonker: “Dis die ergste wat kan gebeur, wanneer ons as gelowiges so in ons skik raak met onsself, dat ons nie meer besef dat alles wat ons het,  net genade is nie.”

Dit klink snaaks, maar gelukkig kan bome soms praat. Dan voeg ek by, al is dit net in fabels, soos in die verhaal van Jotam in Rigters 9, die verhaal van die bome wat vir hulle ’n koning gesoek het, en eindelik met ’n doringbos opgeskeep gesit het.  Die Franse skrywer Jean de la Fontaine, vertel in een van sy fabels van ’n Eikeboom wat op ’n dag neerhalend teenoor die riet opgemerk het. “Jy is darem baie sleg deur die natuur benadeel! Die kleinste ou briesie laat jou buig, maar ek kan alles trotsteer, son, wind en weer.  Vir jou is ’n ligte windjie ’n orkaan, maar vir my is die sterkste wind ’n briesie. Kom skuil by my dan sal  jy veilig en buite gevaar wees!”

Die riet het geantwoord: “Dankie vir jou meegevoel, maar eintlik is die winde vir ons albei vol gevaar.  Daarom buig ek, maar breek nie.  Kom ons kyk wat gebeur wanneer die wind weer opsteek.”   Kort daarna het die Noorde wind begin dreun.  Die Eikeboom het sterk bly staan terwyl die riet saggies gebuig het. Die wind het later orkaansterkte bereik, en die riet het nog laer gebuig.  Selfs die Eik het geswoeg voor die wind, en hy is ontwortel.  Die hooghartige Eik wat so trots was met sy kroon wat aan die hoogste wolk geraak het. So kom hoogmoed tot ’n val.

Ook by mense – dis  hulle wat altyd beter weet.  Ek wil nou nie sê wat ’n geselskap wil oorheers nie, maar wat altyd wil reg wees en dink hulle kan nie val nie.  Hulle ken die antwoorde op alle vrae, en veroordeel en beoordeel sommer in een asem, wat reken hulle kan nie ’n fout maak nie.  Wat net altyd beter weet al is dit in die stilligheid soos die Farisieërs en die Skrifgeleerdes in Jesus se tyd. Daarteen het Jesus dikwels verkies, om te swyg.

Hooghartigheid en liefdeloosheid is taalmaats.  In 1 Korintiërs 13, praat Paulus oor liefde in die praktyk. “Soek daarom die liefde wat jou so sal verander, dat ook jy sal kan sê: (vers 4 & 5: “Ek is gevul met liefde, daarom is ek geduldig, vriendelik, nie hooghartig nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie, handel ek nie onwelvoeglik nie.  Soek ek nie my eie belang nie, is ek nie liggeraak nie.  En hou ek nie boek van die kwaad nie.\’

Daarom het my ou professor, Willie Jonker tereg gesê: Ja, dis die ergste wat kan gebeur, wanneer ons as gelowiges so in ons skik raak met onsself, dat ons nie meer besef dat alles wat ons het,  net genade is nie. Dit is wanneer die duiwel ’n vatplek op ’n mens kry.

Gebed: Here, maak ons nederig.   Maak ons diensbaar, geduldig, nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand, nie liggeraak omdat ons ego aangeraak word nie, maar veral omdat ons nie boek van die kwaad sal hou nie. Gee dat ons nié op ander sal neersien nie.

Amen.