Gedagte vir die dag | Vrydag 15 April 2022

 

Goeie Vrydag!

Hoeveel keer het ons nie in die gees al teruggegaan na Jesus se helse ervaring op daardie somber Vrydag in Jerusalem nie. Ons hoor op hierdie dag, waarskynlik een van die mees betekenisvolle dae op ons geestelike kalender, weer die woorde uit Jesaja 53:2-5: “Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.  Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. 4Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.  5Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom”.

Kom ons luister of lees vandag  biddend na die aangrypende gebed van Pieter de Villiers:

Here, my Verlosser,

Op hierdie goeie dag staan ek voor U kruis, Deel van die skare wat met afgryse sien.

Hoe U u mag en heerlikheid gewillig prysgee, Vir ‘n bitter, eensame dood.

U het geen skoonheid of prag dat ek na U sou kyk nie, Geen voorkoms dat ek van U sou hou nie.

Voor my hang U as man van lyding wat uitroep sonder pyn. U verneder Uself om Dienskneg, ja, Vervloekte te word.

My hart verwerp dit, Want hoogmoedigheid en trots wil ek my eie lot bepaal. My onwilligheid en onvermoë om U te verstaan, My liefdeloosheid om na U uit te reik, Is ‘n teken van my skuld

En van die geweld van die kwaad in u skepping. En, tog in die verskriklike toneel, reik U na my uit, roep U, o Gees, in my hart uit dat U my Verlosser, my Heiland is.. Hoe kan ek dit verstaan dat U na my, verlore kind, so geduldig in liefde verlang?

Hoe kan ek deurgrond dat U bereid was om nie met my skuld op U te neem nie, maar ook die hoogste prys daarvoor te betaal?

Here, wanneer ek U nou aanbid as die Verlosser wat in my plek my sonde opneem, is dit omdat U in u stryd teen die kwaad, my hart uit suiwer genade aangeraak het en my liefdevol tuis bring. U skenk aan my vrede. Here, nou wil ek saam met U ‘n teken van vrede in hierdie pyn-wereld word. My daarom iemand wat soos U ander se wonde wil heel.

Here, nou wil ek saam met u ‘n teken van vrede in hierdie pynwêreld word. Maak my daarom iemand soos u wat iemand anders se wonde deel.

Amen.