Gedagte vir die dag | Vrydag 14 Mei 2021

Handelinge 20:35. “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om net te ontvang.”

Ons lees telke male dat wanneer Jesus na mense rondom hom gekyk het,  hy hulle innig jammer gekry het.  Dit het Hom aangespoor tot die dinge wat Hy gesê en gedoen het. Om te gee – begin nie met die daad nie, maar word gebore uit ’n diep oortuiging wat binne ons leef.  Dit is die uitwerking van dié oortuiging wat oorgaan tot ’n daad en dan uiteindelik betekenis aan ons eie bestaan gee.  Moet dus nie vandag jou kop probeer breek oor hoe jy moet “gee” nie. Laat eerder toe dat die omgee van God se liefde en genade wat in jou leef,  jou inspireer tot ’n spontane reaksie.

Gebed

Here, help my om in hierdie besige dag wat op my wag bewus te raak van die spontane omgee wat in my hart lê.  Laat ek vandag ook soos U,  deur mense geraak word sodat ek hulle innig jammer sal kry.  Om deur hulle skerp woorde en onverstaanbare optrede te kan sien en met ’n innigheid te reageer.  Ek loof U dat my eie lewe hieruit sin en betekenis kan kry.

Amen