Gedagte vir die dag | Vrydag 13 November 2020

Jakobus 1:26.“As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos.”

Die verhaal word vertel van ’n koning wat vir sy sjef gevra het dat hy vir hom ’n aandete met die heelbeste markprodukte moet voorberei. Die sjef het toe dié aand ’n klomp tonge vir die koning gaar gemaak en met verskillende souse voorgesit. Die voorgereg, hoofgereg en nagereg het uit verskillende weergawes van tong bestaan. Die koning vra die sjef toe na die ete waarom hy op tong besluit het. Die sjef antwoord toe die koning dat hy hom gevra het om die beste produk op die mark te kies. Daar is tog seker niks beter as die tong nie. Dit is die gom van ’n beskaafde samelewing, die sleutel van die wetenskap en die medium waarmee waarheid en rede oorgedra word. Dis die manier hoe ons kennis oordra, kinders opvoed, ander van ons liefde laat weet. Deur die tong word stede opgerig, regerings gevestig en geadministreer.  Met die tong redeneer mense en word vergaderings gelei.  Dit is die instrument waarmee ons vir God aanbid en prys. Inderdaad iets besonders.

Die volgende dag gee die koning die sjef opdrag om vir hom disse van die slegste markprodukte voor te berei en inderdaad het die sjef daardie aand weer tong vir voorgereg, hoofgereg en nagereg bedien. Die koning roep die sjef toe in en vra hoekom hy weer tong voorgesit het.  Die sjef antwoord: “Die tong is die heel beste produk op die mark maar ook die heel slegste produk, want die tong is ook die instrument van tweedrag, die aanstoker van regsgedinge, die bron van verdeeldheid en oorlog, die medium van vrees, skinder, leuens asook selfs van Godslastering.

Die tong is die megafoon van die mens se innerlike. Jesus het self gesê: “Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit is wat ’n mens onrein maak.” (Matt 15:11). Wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Jou woorde is die verklanking van jou gedagtes, dit wat in jou hart aangaan. Ons woorde verklap wat ons dink. Dus is Jakobus dit ook eens dat dit wat uit jou mond uitkom ’n goeie bewys is van wat in die hart aangaan.

GEBED

Here, raak my hart aan sodat my woorde vir U aanneemlik sal wees.