Handelinge 5:12-14. Al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo, maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag. Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vroue, algaande by hulle getal gevoeg.
Die eerste groepie gelowiges of dan die kerk van die antieke tyd was baie klein. Hulle het na Jesus se opstanding gegroei van 72, tot 128 tot 5000. Wat het mense aangetrek om by hierdie gemeenskap, waarvan ons vandag deel is, aan te sluit? Die geheim van die kerk was relevansie. Die Heilige Gees het mense geïnspireer om op ’n opbouende en betekenisvolle manier in hulle samelewing te leef en so het die kerk gegroei. Die Heilige Gees het gelowiges ’n aanvoeling gegee om dit wat skeef en verkeerd loop reg te maak. Om vir mense in te staan op wie daar neergekyk word. Dit was die manier waarop die eerste gelowiges getuig het. Hulle het nie hulle geloof vir mense verduidelik nie, maar geleef. Sommige was daardeur afgeskrik omdat hulle nie bereid was om hierdie grense oor te steek nie. Die wese van die kerk waarvan ons vandag deel is, is bedoel om relevant te wees vir die kwessies, geleenthede en uitdagings van ons wêreld. Hoe is jy deel van hierdie gemeenskap waardeur die Here betekenis vir ander wil gee? Wat is die grens waarvoor jy vandag staan en hoe praat die Here met jou om daardeur te beweeg?
Gebed
Here, soos die klei in die hand van die pottebakker, so is ek vandag in u hande. Vorm my en maak my om van nut en betekenis te wees vir die tyd en omstandighede waarin ek my vandag weer bevind. Here, ons is geleer dat ons ander oor U moet vertel. Bewaar ons tog om nie net altyd oor U te praat nie, maar beskikbaar te wees dat U deur ons praat. Gee my vandag ’n dieper sin van waarmee U in die lewe met my op pad en mee besig is.
Amen.