Ek lees graag vir julle uit Numeri 6:24.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Dis ’n baie ou seëngebed van meer as 3000 jaar gelede wat glo dat God aan ons sal gee wat ons nodig het. God sal met deernis na ons kyk. Hy sal sag met ons werk en God sal simpatie met ons hê. God sal goed wees vir ons waarookal ons sal gaan. Die volk was in die woestyn op ’n baie moeilike reis en dan sê die Here die priesters om die volgende vir sy volk te sê:
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Dit is die seën wat die Here oor en oor oor sy volk uitspreek. Die Here sê: Ek is daar, Ek weet van jou, Ek sal my seënende hand oor julle hou. Die Here sal op ’n stil, stadige, amper onopmerklike manier vir ons elke dag goed wees. Dis ’n seën wat sê dat as dinge verkeerd loop kan jy weet dat God sal ingryp en sy guns oor jou uitstort. En as jy die rowwe kant van die lewe ervaar kan jy weet dat die Here met ’n sagte gesig en sagte oë na ons kyk.
Dis ‘n seën wat sê dat die Here ook vir ons geleenthede skep en met ’n verwagting na ons lewe kyk. Mag jy ook vandag soos gelowiges deur die eeue, rus in God se seën.