Gedagte vir die dag | Vrydag 12 Mei 2023

Vandag is Vrydag 12 Mei en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit die opstanding te leef en hoe ons be[GEES]terd kan leef. Om be[GEES]terd te leef is om ’n lewe te leef van entoesiasme. Dit is om ’n gloedvolle lewe te leef, om in vervoering te leef of om ’n besielde lewe te ervaar. Dis geesdrif en besieling wat ons aanspoor om as begeesterdes die lewe te leef.

Een van die eerste beginsels wat ons met ons geloof bely is dat, net soos wat Jesus God se versoening vir die ganse mensdom is, só is die Heilige Gees vir die ganse wêreld gegee. Ons weet mos vanuit Johannes 3:16 dat God die wêreld liefhet, en daarom is Jesus as God se genadegeskenk na die wêreld gestuur! Dit is nie God se wil dat die wêreld verlore moet gaan nie.

Die uitstorting van die Heilige Gees is die “dubbele bewys” dat God die wêreld liefhet!

Dit is interessant dat wat daardie Pinksterdag gebeur ’n ander storie van lank gelede by my herroep. In Genesis 11:1-9 lees ons die verhaal van chaos wat uitgebreek het op die aarde met die bou van die toring van Babel. Verwarring het ontstaan, want mense kon mekaar skielik nie meer verstaan nie. Op Pinksterdag verander dit met Handelinge 2:4: Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het . . .wat getuig het oor wie God is.

’n Boodskap sonder verwarring:  God het die wêreld lief!

 

Gebed

Heilige Gees, ek bely dat ek ook soms verdelend en verwarrend werk. Help my om met die krag van die Gees te getuig van ’n God wat ons liefhet.

Amen.