Gedagte vir die dag | Vrydag 12 Februarie 2021

Filippense 3:14.  “Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

In my jonger dae en toe ek nog so ’n paar kilogram ligter was, was ek ’n ywerige hardloper en het  ’n hele paar wedlope afgelê.  Ek het op Wellington gebly, en ek onthou die eerste wedloop waaraan ek deelgeneem het was in Durbanville.  ’n Mens het ingehardloop en uitgehardloop, en dan weer terug gehardloop.  Die manne saam met wie ek gehardloop het, het gesê jy moet altyd jou pas reg kry, jy kan nie te vinnig begin nie anders kan jy nie tot aan die einde volhou nie.  Maar ek het by myself gedink dit kan nie so moeilik wees nie  en ek gaan die pas sommer vinnig insit!  So ’n kilometer van die wegspring lyn af het ek hulle agter gelaat  en sommer lekker sterk spoed aangesit. Toe hulle my by die draaiplek kry, toe stap ek al, en ek het driekwart van die laaste gedeelte van die wedloop ook gestap omdat ek te vinnig begin het en die wedloop te oorywerig aangepak het.

Om ’n Christen te wees, beteken nie om net te begin hardloop nie, maar ’n mens moet uiteindelik by die wenpaal uitkom.  Dit beteken dat soos in enige ander wedloop moet ’n mens jou pas vind, en jou pas hou.  ’n Mens moet verantwoordelik en met goeie oordeel lewe.

Daarom verwys Paulus ook na die Christelike lewe as ’n wedloop.  In 1 Timotius 4 en in vers 15 praat hy  van waar almal jou vordering kan sien.  Lewe jy onoordeelkundig, kortsugtig of, soos ek wat met ’n gebrek aan oordeel nie na ander geluister het nie.  God is spreekwoordelik die afsitter wat ons die eerste tree in hierdie wedloop gee.  Hoe sit God ons in beweging?  Hy verduidelik dit so mooi  in Jesaja 43:1: “Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne”.  Hy roep ons nie net sommer in die bondel nie, maar let wel vir elkeen op ons naam.

“Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne,  Ek ken jou.  Jy is nie maar net ’n nommer nie.  Nee!  Ek ken jou doopname, nie net jou doopname nie, Ek ken ook jou noemnaam.  Ek ken ook jou troetelnaam.  Ek ken jou geskiedenis, jou adres, jou lewe, jou pyn, hartseer en jou frustasie.   Dit wat jou bly maak, dit wat jou laat wakker lê in die nag.  Ek ken jou geskiedenis, ek ken jou deur en deur.  Ek weet van jou suksesse en jou mislukkings.  Maar ook jou sondes, elkeen van hulle.  Vir jou sê ek: Ek roep jou op jou naam, jy is Myne. Jy behoort aan My, al die dae van jou lewe.  Ook as jy ver van my af voel, ook as jy voel Ek is nie daar nie.  Daar wil ek vandag en ook in die toekoms na jou omsien, en vir jou sorg.  Al lyk dit of ek nie altyd daar is nie, by jou werk, of by jou huis, of waar jy ookal beweeg.  Maar dit beteken ook dat jy jou moet gedra soos iemand wat aan My behoort.  Ook die tye wanneer dit vir jou voel asof ek vêr weg is en nie teenwoordig is nie.”

So roep God elkeen van ons, en as jy antwoord: “Ja Here, ek hoor U” moet jy hierdie groot tree in die regte rigting en met groot versigtigheid en verantwoordelikheid gee. So word ek en jy ’n Christen in beweging oppad met God.  Gee hierdie gewillige tree vandag weer, dis die enigste manier waarop jy die wenpaal kan bereik.  As jy doelgerig, voluit en met oorgawe hierdie wedloop hardloop. Soos Paulus dan sê: “Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het.”

Gebed

Here dankie dat U in elke tree, van ons lewenswedloop daar is.  Ons besef Here, dat ons so maklik oordeelsfoute maak en dat ons dikwels nie goed voorbereid is nie.  Dat ons nie die regte skoene aan het nie en nie na ander se raad luister nie.  Dat ons wegdraai van die wenpaal, of die einddoel mis.  Dankie dat U ons elke keer weer kan terugbring, en gee vir ons die genade om tot die einde van die wedloop te hardloop.

Amen.