Vandag dink ons steeds aan Jesus wat aan die kruis hang op daardie eerste goeie Vrydag, terwyl Hy sy laaste woorde uitspreek. Vandag dink ons aan die derde kruiswoord waaroor ons in Johannes 19:25 lees.
“By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.’
’n Ongelooflike toneeltjie wat afspeel op Golgota! Jesus is steeds gefokus op die nood van mense rondom Hom, terwyl Hy self in die diepste, diepste pyn verkeer. Hy het eers vir skuldenaars by Sy Vader gepleit, omdat hulle nie weet wat hulle doen nie. Daarna het Hy vir ’n veroordeelde misdadiger gesê: “Ek dink aan jou, en sal jou die toekoms in neem.”
Hier is Hy in gesprek met die mense wat waarskynlik die naaste aan Hom geleef het, en die meeste emosionele pyn moes ervaar om Hom so aan die kruis te sien. Sy Moeder, Maria, en dan die dissipel vir wie Hy baie lief was (Johannes). Ek kan net dink hoe hulle huilend opgekyk het na Hom. Hulle pyn het sy pyn geword, daarom hierdie ongelooflike reëling wat weereens die hart van Jesus so duidelik wys: Versorgend, liefdevol en vol deernis. In hulle nood, verbind Hy hulle aanmekaar, en sê dat hulle mekaar moet versorg. Dis die voorstel van Jesus, hulle moet mekaar omhels, familie word en so sy liefde ervaar.
Jesus weet dat Sy uiteindelike familie die gemeenskap sal wees wat rondom Hom ontstaan, die ruimte waarbinne mense mekaar kan omhels en ondersteun en mekaar se smarte deel. Dit is wat Jesus hier voorstel. Dit is wat Hy vir mense voorstel sodat hulle mekaar kan koester . . . sy familie op aarde!
Kan ons nie ook hierdie derde kruiswoord van Jesus in ’n tyd van alleenheid, emosionele pyn en vereensaming aangrpyp nie. Ons het mekaar! Jesus stel voor dat ons na mekaar moet omsien, omhels en emosioneel vertroos deur mekaar se laste te dra. Gebeur dit met jou? Vind jy iewers ’n liefdevolle emosionele tuiste soos wat Maria en Johannes gevind het? Soos Jesus aan die kruis voorgestel het. Dis hoekom ons ’n familie is, ons doen dit wat Jesus vir ons leer en voorstel. Kom ons omhels mekaar met liefde en versorg mekaar met deernis.
Here, Help ons om meer en meer die geestelike en liefdes familiebande te bou as u familie op aarde.
Amen.