Gedagte vir die dag | Vrydag 11 Junie 2021

Sefanja 3:14-15. “14Sing, Sion! Juig, Israel!  Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem! 15Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf, Hy het jou vyande laat padgee. Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie.”

Die opskrif van Sefanja plaas dié boek in die tyd van koning Josia van Juda (640-609 v.C.).  Op internasionale gebied was dit die laaste jare van die Assiriese Ryk met die hoofstad in Nineve.  Sedert die dood van koning Assurbanipal in 633 voor Christus het dié ryk sodanig verswak dat Juda vir praktiese doeleindes weer as ’n onafhanklike land gefunksioneer het.

Sefanja fokus in vandag se teks op die toekomstige vrede wat in Juda en Jerusalem sal heers. Die volk kan solank hulleself verheug in wat gaan kom: “Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!” Die oorlog sal vergete wees, die vyand verslaan. Die Here self sal as Koning optree en hulle van rampe beskerm. Hulle moedeloosheid sal verdwyn. Let op hoe pragtig Sefanja die teenwoordigheid van die Here beskryf: “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” (3:17).

Dit is ook die belofte wat ek en jy vandag vir ons kan neem. Die Here ons God is by ons. Hy is die krygsman wat ons red. Die Here belowe ons in sy woord, dat hy met ons is – dag en nag en dat Hy ons nooit alleen sal laat nie. Dit mag dalk vir jou voel asof die hele wêreld teen jou is, maar dit is eintlik anders om. Die Here staan saam met jou. Hy is by ons in die diepste donkerte. In Sy hande is ons veilig. Jy moet onthou God woon in jou, Hy is by jou en in jou!. Glo en vertrou dat die Here by jou is.  tydens jou seer en jou swaarkry.

GEBED

Die Here is VOOR jou om jou pad gelyk te maak.

Die Here is LANGS jou om jou in Sy arms toe te vou.

Die Here is AGTER jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.

Die Here is ONDER jou om jou te dra as jy mag val.

Die Here is RONDOM jou om jou te beskerm.

Die Here is BOKANT jou om jou te seën.

Die Here is BINNE-IN jou om jou te lei met Sy Heilige Gees.

Die drie-enige God is BY jou – van nou af tot in ewigheid.

Amen.