Gedagte vir die dag | Vrydag 11 Desember 2020

Jesaja 9:5. ” Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”

Jesaja 9 is geplaas binne ’n hele aantal klaagliedere van oordeel wat oor die volk gefel gaan word en dien beslis as ’n baken van hoop. Die gedeelte kom gee hoop aan ’n volk wat vasgekyk het in ’n hopelose situasie. Die skrywer wil sê dat ten spyte van al die oordele en slegte nuus wat die volk nou ontvang het, is daar ook steeds hoop. Dit wil die volk belowe dat swaarkry en oordeel nie die laaste antwoord is nie. Met ander woorde dat daar lig aan die einde van die tonnel is.

Saam met hierdie wonderlike nuus van verlossing uit die ballingskap, kry hulle ook die boodskap dat ’n Verlosser gebore gaan word. Die volk Israel word ’n belofte gegee dat ’n Koning sal heers wat groter as enige ander koning is. Die wonderlike Koning wat gaan kom sal weer lig bring, sal die vreugde herstel en sal die heerskappy van koning Dawid herstel. Ons weet hierdie professie is in Jesus Christus vervul. Hy het dan ook hierdie wonderlike name gehad:

  • Wonderbare Raadsman:  Hy sal geen raad van ander nodig hê nie, want God is Sy Raadgewer. Die oorsprong van Sy wysheid kry ons in Jes 11: 2 “Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here”.
  • Magtige God:  Hy sal ook genoem word Magtige God. Hierdie Messias sal ook God wees, want Hy is deel van die Goddelike drie-eenheid. Hy is die magtige God wat Sy volk kan verlos en vir ewig sal beskerm.
  • Hy is ’n Ewige Vader wat voortdurend vir sy volk sorg. Vader is ’n koninklike titel. Elke goeie koning is ’n vader vir sy volk. Maar hierdie goeie Koning Jesus se Vaderskap sal wees soos die van God die Vader self.  Met ander woorde dit is vaderskap sonder einde.
  • Vredevors: Hy bring die vrede na die wêreld. Dit was een van die koning se belangrike pligte om vrede en voorspoed in sy koninkryk te bewerkstellig. Maar die Here Jesus se hele wese was vrede.

GEBED

Ek glo in Jesus die Seun van God wat in ’n stal gebore is

As die Seun van ’n Timmerman in Nasaret.

Ek glo in Jesus Christus, die Mens na God se hart

wat God se wil gekies het om deur die haat van mense

’n doringkroon te dra en van God geskei te word

Wie gekies het om

in die Godverlatenheid van Golgota ­

in die doderyk deurgrond te word

sodat ons onvervreem van God kan lewe.

Ek glo in hierdie Jesus wat opgevaar het na die Vader

en daar vir my intree

omdat Hy nader aan my is as wat ek aan myself is;

Ek glo in hierdie Jesus wat as Koning sal terugkeer

Wat as Koning oor elkeen sal oordeel

Wat as Koning vir ewig sal regeer.

Amen