Gedagte vir die dag | Vrydag 11 Augustus 2023

Rut 1:16. Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God;

Hier, vroeg in die verhaal van Rut, staan Rut op ’n draaipunt. Sy moet kies hoe haar lewe vorentoe lyk. Noami maak dit duidelik aan haar en Orpa dat daar geen toekoms vir hulle saam met haar is nie. Orpa kies om terug te gaan huis toe, soos wat Naomi aanbeveel, maar Rut dring aan om te bly. Ons kan spekuleer oor die rede hoekom Rut sou kies om nie terug te gaan na die gemaklike bekende nie en eerder kies om saam met Naomi in die toekomslose onbekende in te stap, maar die waarskynlike rede is omdat sy gedryf word deur haar liefde vir Naomi, eerder as haar liefde vir haarself. Verder erken Naomi ook dat sy eerder ’n pad wil kies, al is dit onseker, wat sy saam met die Here stap, eerder as om terug te keer na haar volk en die godsdiens van haar mense. Sy kies, om saam met Naomi en saam met God in die onbekende in te stap.

Die verhaal van Rut wys verder hoe sy as ’n vreemdeling, ’n Moabiet, deel word van God se volk en selfs van Dawid en later Jesus se verhaal. Rut kon onmoontlik weet dit is waarheen haar storie op pad is. Wat haar gedryf het, is liefde vir ander eerder as vir haarself en ’n vertroue dat God sal sorg vir haar storie.

Mag ons vandag, in die keuses wat ons moet maak, kies om uit liefde vir ander op te tree, eerder as liefde vir onsself.

Gebed

Here, mag Rut se verhaal ons vandag inspireer om uit liefde vir ander te leef, eerder as liefde vir onsself. Help ons om op U te vertrou en te weet dat ons stories veilig in u hande is. Dankie vir U genade en U barmhartigheid wat elke môre nuut is vir elkeen van ons.

Amen.