Gedagte vir die dag | Vrydag 10 Desember 2021

 

Matteus 16:15-16.“Maar julle”: Het Hy gevra, “wie sê julle is ek?”. Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God”.

Het Jesus se dissipels regtig geweet wie Hy is? Die grootste gedeelte van die tyd wat hulle saam met Hom spandeer het, het hulle aan hom gedink as ’n besondere mens deur wie God wonders doen.  Hy was ’n gewone mens wat soos hulle wat geëet en geslaap het en in al hulle menslike emosies gedeel het.  Maar die besef dat hy meer was het toenemend in hulle begin groei en dit was eers werklik na die gebeure van Jesus se dood en opstanding wat hulle besef het dat dit God was wat die hele tyd in hulle midde was. Lank na hierdie gebeure was daar in die kerk se geskiedenis verskillende opinies oor die werklike aard van Jesus.  Wanneer ons vandag weer ons geloof in die God wat mens kom word het bely, bring dit ons by die vraag uit wat God vandag jou vra: Wie sê jy is ek? Dit tref ’n mens as jy besef dat die persoon wat jou die vraag vra die Here is wat in jou midde staan.  Wie God is, is dus nie soseer ’n lang lys van karaktereienskappe nie, dit het eerder te doen met ’n naby verhouding met jou en die mense om jou. Laat hierdie gedagte vandag oral met jou saamgaan.

 

Gebed

Magtige God, moet U tog nie vir my skuilhou nie!  Openbaar aan my dat daar by U lig is in ruil vir my duisternis; dat daar by U moed is in ruil vir my angs; hoop in ruil vir my vertwyfeling; vrede in ruil vir my onrus; blydskap in ruil vir my hartseer; krag in ruil vir my swakheid; wysheid in ruil vir my verwarring; teerheid in ruil vir my ruheid.  Openbaar aan my dat daar by U liefde is in ruil vir my haat en vergifnis vir my sonde; dat U daar is in ruil vir myself. Here, o Here, moet tog nie vir my skuilhou nie.