Lees: Psalm 92
Teks: Psalm 92:1-2 “Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste, om elke môre van u liefde te getuig, en elke aand van u trou,
GEDAGTE
Dis 1 September. Dit is lente! Ek is sommer lus om te sing: “Dis heerlike lente die winter is verby, weer vrolik die velde vir jou en vir my”.
Vandag se Psalm sê vir ons dat dit goed is om die Here te loof. So met die aanbreek van die nuwe seisoen is ek ook sommer lus om die Here opnuut weer te loof en te prys.
Die Here moet geprys word omdat Hy die almagtige Skepper is. Hy het met sy Woord die heelal geskape en alles in plek gesit. Elke sterretjie, die aarde en die son, alles perfek. Hy moet geprys word omdat Hy God is, omdat sy Naam verhewe is bo alles en almal. Hy regeer oor alles en hou alles in stand, sy majesteit strek oor die hele aarde, Hy is Koning. Hy gee krag aan die wat Hom dien, Hy sorg vir hulle en ook vir ons. Hy is naby aan ons. Ons moet die Here loof en prys vir wie Hy is en nie vir wat Hy vir ons kan gee nie, of vir wat ons uit Hom kan kry nie. Hy het ons gemaak en ook nuut gemaak deur ons te verlos van die dood en die sonde.
Ek weet nie wat is jou omstandighede vandag nie. Ek hoop dat jy ten spyte van jou omstandighede, of dit goed of sleg is, ’n jubellied tot eer van God kan sing. Staan op en steek jou hande in die lug en loof die Here met enige lied waaraan jy nou kan dink.
GEBED
LOOF DIE HERE, AL WAT LEWE
WIL HOM DANK EN HULDE BRING –
HY HET AL ONS SKULD VERGEWE;
ONS ‘N NUWE LIED LAAT SING.
LOOF HOM, PRYS HOM !
LOOF EN PRYS HOM !
LOOF DIE VADER, GOD EN HEER !
AMEN