Deuteronomium 10:17. Wy jouself aan Hom en moenie hardkoppig wees nie. Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.
Ons is gedurig in ons lewens besig om kante te kies in die hoop dat die kant, of span wat jy gekies het, beter sal doen as die een wat jy nie gekies het nie. Ons beoordeel ook mense en plaas hulle onbewustelik in verskillende kategorieë. Ons doen moeite met diegene van wie ons hou en noem hulle vriende. Dan is daar diegene met wie ons haaks is en wie ons selfs vyande noem. God is nie so nie. Hy is vir niemand partydig nie en word nie deur ons gebede en diens omgekoop nie. Vandag se teksgedeelte vra dat ons van ons hardkoppigheid oor ander ontslae sal raak. Kyk deur God se oë na die mense wat jou kwaad maak en frustreer en laat sy Gees jou lei om vandag anders teenoor hulle op te tree.
Gebed (liedboek 232)
Diep o God diep neergeboë, staan ons voor U hoë reg in volslae onvermoë. Hoe word ooit ons saak besleg? Waar ons voor U skuldig pleit, o volmaakte Heiligheid, werk U met u Gees versoening deur die Heiland se voldoening.