Matteus 26:20-23. “Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. Terwyl hulle eet, sê Hy: ‘Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.’ Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: ‘Dit is tog nie ek nie, Here?’ Hy antwoord toe: ‘Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai.'”
GEDAGTE
Tydens Jesus se laaste oomblikke saam met sy dissipels wys Hy die dissipel wat Hom gaan verraai aan. Dit is die een wat saam met Jesus die brood in die skottel gaan druk. Johannes vertel vir ons dat Jesus die brood vir Judas gegee het met die opdrag dat Judas gou moet maak. Judas neem die brood, en gaan dadelik uit. Toe Judas die brood neem, het die Satan in hom ingevaar. Van dié oomblik af is Judas nie meer homself nie. Hy is deur die duisternis oorgeneem.
Jesus het duidelik geweet wie Hom gaan verraai. Waarom Judas besluit het om Jesus te verraai, is onduidelik. Ons getuienis oor Judas se innerlike worsteling is beperk. Judas was by ’n worsteling tussen lig en duisternis ingetrek. ’n Worsteling tussen waarheid en leuen; tussen God en Satan. Judas word ‘n voertuig van God se teenstanders.
Wanneer Judas laat spaander, bly Jesus in beheer van sake. Hy vermy nie die verraad en die lyding wat voorlê nie. Jesus reageer op die verraad en die kruis deur te sê: “Die Seun van die mens gaan verheerlik word.” Die lyding wat voorlê is die pad van sy verheerliking. Jesus word nie ’n passiewe slagoffer van Judas se verraad nie. Hy kies om sy lydingsweg as pad na sy verheerliking in gehoorsaamheid te loop.
GEBED
O Here Jesus, ons kniel hier voor U, herdenk u lyding en u oorwinning.
Ons bring ons lofsang en ons aanbidding aan U, o Here.
AMEN