Gedagte vir die dag | Sondag 7 Februarie 2021

Psalm 40:2-3.  Ek het op die Here bly wag, Hy het na my afgebuig en my hulpgeroep gehoor.  Hy het my opgetrek uit die put van verderf, uit die modderige slik.  Hy het my voete op ’n rotsbank laat staan, my voetstappe vastigheid gegee.

Hierdie paar verse is ’n belydenis oor die Here se getrouheid.  Dawid het al sy hulp van die Here verwag.  God is nie te ver om te hoor nie en buig af om hom uit die put te trek.  Dit is egter nie net ’n geval van uittrek nie, maar God plaas sy lewe weer op vaste grond.  Dit is Hy wat weer standvastigheid gee.  Uit sy persoonlike situasie kan Dawid getuig dat God getrou is.  Dit is ’n algemene lewenswaarheid: God is getrou! Die benarde en doodsbenouende situasie waarin hy verkeer het, is omgeswaai na oorwinning en stabiliteit.

Dalk is jy nou ook binne ’n moeilike tyd waar dit vir jou voel of daar nie lig aan die einde van die tonnel is nie.  Dit voel dalk vir jou asof jy teen ’n muur staan en alles is buite beheer en jy vrees dalk dat die Here se hulp en uitkoms nie betyds gaan wees nie.  Hou moed, baie gelowiges het al so gevoel.  Baie voor jou is al op die randjie van die afgrond gered.  Die Here se tyd is nie ons tyd nie en Hy sál betyds daar wees om jou uit die gemors of moeilikheid op te tel, weer jou lewe op die regte koers te plaas en nuwe blydskap in jou lewe te bring.

Terwyl jy wag – wees geduldig en  hou aan met bid.  Hou aan om te glo, hou moed, vermy negatiewe gedagtes en praatjies oor jou situasie en probeer om weg te kyk van jou probleem en op die Here te fokus.  Vul jou gedagtes met positiewe en opbouende dinge.  “This too shall pass” en dan sál daar ’n terugkykdag kom waarop jy soos Dawid sal kan getuig: “Ek het vas geglo dat die Here my sou help en dit het toe gebeur.”

GEBED

Here, ek het U hulp nodig. Ek voel of ek rondswem in ‘n modderpoel. Tel my asseblief ook op en plaas my weer op ’n vaste rots.

Amen