Psalm 62:11: “Moenie op geweld vertrou nie; roof sal jou niks in die sak bring nie. As jou rykdom toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie”.
Ons is nog steeds besig met ons stories aan hand van “Stories vir die lewe”.
Vandag se storie is baie nou verwant met bogenoemde teksvers. Die volgende storie word vertel:
Daar was ’n baie ryk man, wie se lewe net om homself gedraai het. Dag na dag het hy bereken hoeveel geld hy reeds gemaak het, en hoeveel meer hy nog kon maak. Hy het net die beste kos geëet, ontwerpersklere gedra en in ’n baie groot huis gebly, met talle bediendes wat na al sy behoeftes omgesien het. Hy het alles wat hy begeer het gehad, was gelukkig met homself en met sy lewe. Aan wat buite sy huis gebeur, het hy homself selde gesteur. Wanneer hy buite sy groot venster uitgekyk het, sou hy net anderkant sy pragtige tuin die armsalige plakkershutte van die armes van die land kon sien, maar hy het net oë vir homself en sy besittings gehad.
Op ’n stadium het daar ’n swaarmoedigheid oor hom gekom. Hy kon snags nie meer slaap nie, en was nie meer lus vir die Cordon Bleu-disse wat vir hom voorgesit is nie. Selfs om sy baie geld te tel, kon hom nie meer beter laat voel nie. “Gaan haal vir my die wyste man in die land!” beveel hy sy sekretaris. Ek sal hom enige iets betaal as hy my kan help om beter te voel. “Waarmee kan ek help?” vra die wyse man toe hy by die rykmanshuis opdaag. “Gee my raad! Ek wil weer vreugde in die lewe ervaar.” Die wyse man het ’n oomblik nagedink, en toe neem hy die ryk man na die venster wat na die straat front. “Wat sien jy as jy deur die venster kyk?” vra hy. “Ek sien mense”, antwoord die ryk man. “Ek sien ’n arm man wat bedel, en ’n seuntjie wat ’n ou dame oor die pad help. Ek sien kinders wat lag en speel!” Daar kom sommer weer lewe in sy stem. Toe lei die wyse man hom na ’n spieël in dieselfde vertrek. “Wat sien jy nou?” vra hy. “Ek sien myself.” Kom sit hier, dan vertel ek jou iets, sê die wyse man. “In ’n venster is daar glas, en in ’n spieël is daar ook glas. Kyk ’n mens deur die venster, sien jy ander mense en hul behoeftes. Plaas jy silwer agter die glas het jy ’n spieël, waarin jy net jouself sien. Dink daaroor, ek gaan nou. My advies kos niks nie.”
Die ryk man is so geruk deur die wysheid dat sy lewe daardie dag totaal verander het. Hy het na die behoeftes van ander begin omsien en hy was weer gelukkig, maar op ’n ander manier.
“Niks maak die mens so eensaam nie, as jou eie belang, jou enigste belang geword het nie. Niks vernietig ware geluk soos respektabele selfsug nie.” – George MacDonald.
Gebed
Here, dankie vir alles wat ek het, dankie vir alles wat U my gegee het. Dankie vir al die seën en besittings. Help my om dit met dankbaarheid te besit, sonder dat dit my besit. Help my om te deel soos wat U deel.
Amen.