Gedagte vir die dag | Sondag 5 Junie 2022

Hartlik welkom. Hierdie week gaan ons saam op reis met ’n roadtrip vol G’s. Ons kyk na ’n Bybelverhaal wat ons leer van ’n man met die naam Naäman.  Hy moes padlangs leer dat moeilike situasies oplossings het. Kom ons luister padlangs saam en hoor wat gebeur . . .

Welkom by die avontuur. Sit jou veiligheidsgordel aan en kom geniet die reis.

Vandag se tema is: Padlangs Gehoorsaam en ons reis saam in vers 13-14a: Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?” 14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het…

 Alles maak nie altyd sin wanneer ons padlangs op reis is nie. Vir Naäman het dit nie sin gemaak dat hy gesond sou word deur homself in die Jordaanrivier te was nie. Kon hy nie maar net dan naby sy eie huis in ’n rivier gaan bad het nie? Hy moes baie ver padlangs reis om gesond te word. Dit het net nie vir hom enigsins sin gemaak nie, daarom luister hy nie en ry weg. Gelukkig vir hom het hy nie alleen gereis nie, maar het hy amptenare wat saam hom gereis het en hom toe kon reg help. Gelukkig reis ons ook nie padlangs alleen op hierdie lewenspad  nie. Nee ons het mense wat vir ons omgee en wat saam met ons op reis is. Geliefdes wat vir ons omgee en ons kan aanspreek wanneer ons afdwaal en ongehoorsaam is. Geliefdes wat ons help om koers te hou, om gehoorsaam te bly en na die stem van die Here te luister selfs al vra dit van ons om iets nie net eenkeer te doen nie, maar selfs sewe keer te doen.

Gesels nou saam oor die volgende vrae, of dink daaroor na. Julle kan na elke vraag die “pause” knoppie druk om tyd te gee sodat julle bietjie daaroor kan dink en daaroor kan gesels.

  • Hoekom luister ons nie altyd nie?
  • Hoe weet ons wat God se wil vir ons lewens is?
  • Vertel ’n storie, of dink na oor ’n tyd wat jy God gehoorsaam het, al het dit nie sin gemaak nie.
  • Wie is die mense wat saam met jou padlangs reis en jou opkoers hou?

Kom ons bid saam. 

Here, vergeef ons as ons nie altyd wil luister nie. Dankie dat ons hierdie lewenspad padlangs nie alleen hoef te stap nie. Dankie dat U saam met ons reis. Dankie dat U ander rondom ons plaas wat vir ons sorg en inspraak in ons lewens maak. Amen

Doen nou die volgende saam. Hier is drie voorstelle:

  • Die eerste voorstel is vir families: Gaan was mekaar se hande onder ’n kraan en doen saam met dit ’n doopherinnering. Sê vir mekaar dat die Here jou liefhet!
  • Die tweede voorstel is vir tieners: Skryf ’n persoonlike brief aan God as ’n gebed oor dit wat op jou hart is.
  • Die derde voorstel is vir kinders: Speel “noughts & crosses” as ’n herinnering dat sonde deur ons ongehoorsaamheid gedurig probeer wen, maar sodra iemand met kruisies in ’n lyn wen, dien dit vir ons as ’n teken dat Jesus deur die kruis wel oorwinning behaal het.

Vrede en Seën.