Lukas 2:7: (selfde as gister). “Maria het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.”
Walter Purling (Wally) vertel die ou verhaal. Hy was 10 jaar oud, en steeds in Graad 2. Die meeste mense in die dorp het geweet hy sukkel intelektueel en liggaamlik om by die res van sy klasmaats te hou. Die verhaal speel af teen die baie Kerskonserte wat ons kinders in hierdie tyd doen. Wally was groot, lomp en stadig, en van beweging ook verstandelik nie so skerp nie. Party kinders het van hom gehou, ander het hom as ’n irritasie ervaar, omdat hy stadig was, en nie aan speletjies wou deelneem nie. Hulle het gewoonlik ’n manier gevind om hom uit te sluit.
Een jaar was dit Wally se ideaal om in die kerk se Kersspel die skaapwagter met ’n fluit te wees. Maar die toneelafrigter het ook besef dat Wally se musiektalent nie waffers is nie. En toe eerder die rol van die herbergier aan hom toegeken. Wally se groot lyf sou lekker krag gee aan die rol in die toneel waar hy vir Josef en Maria moet wegwys en die rol het nie veel dialoog geverg nie. Hy hoef dus nie te veel woorde te leer nie, en Wally was in die wolke oor sy belangrike rol. Die groot aand het aangebreek, en daar staan Josef en Maria voor Wally. “Wat wil julle hê,” vra die herbergier kortaf by die deur. “Ons soek slaapplek”, het Josef gesê. “Gaan soek vir julle ander slaapplek,” het die herbergier met groot oortuiging soos sy woorde aan hom geleer is, gesê. Hy kyk hul egter nie in die oë nie, en staar net reg voor hom uit toe hy sê: “Die herberg is vol.” Maar meneer, vra Josef dringend, ons het oral gevra? Ons het ver gereis en is uitgeput.”
“Dit maak geen verskil nie. Hier is geen plek in hierdie herberg vir julle nie. Gaan nou!“ Asseblief herbergier vra die klein Josef, meegevoer deur die toneelstuk. “Dit is my vrou die, en die tyd is naby dat sy geboorte moet gee aan die kindjie, jy moet tog iewers ’n ou plekkie hê waar ons kan gaan rus?” Vir die eerste keer kyk Wally af na Maria toe, hy sien haar gesig is moeg, swanger lyfie, en daar is ’n lang stilte. Lank genoeg om die gehoor gespanne te maak van verleentheid. “Nee, gaan weg!” fluister Wally vir hulle. Hartseer sit Josef sy arm om Maria en begin wegloop. Wally staan in die deur en sy mond hang oop, sy voorkop is op ’n plooi getrek van bekommernis en sy oê blink van die trane. En skielik is daar ‘n wending in die Kersspel. “Josef, wag moenie loop nie!” skree Wally, roep vir Maria terug. ‘n Glimlag breek oor sy gesig. “Julle kan mos my kamer kry”
Daar was mense wat gedink het hy het die Kerspel verwoes, maar die meeste het gereken dit was die heel mooiste een wat hulle al ooit gesien het!
Gebed
Here, gee dat ons U sal raaksien, as U verby ons gaan. Nie net in hierdie tyd nie, maar elke dag.
Amen.