Markus 6:37. “Maar Hy antwoord en sê vir hulle:Gee julle aan hulle iets om te eet.”
Kos, of maaltye is vir baie van ons een van die hoogtepunte van ons dag! Dink maar net ’n bietjie aan die rol wat kosmaak, en die lekkerte van aansit om die tafel vir ’n ete in ons lewens en in ons huishoudings speel. Dit gaan oor die voorsiening aan ons fisiese behoeftes, maar ook aan die lekker saameet, saamkuier, geselskap en saamlag. Ons het dit veral beleef met die onlangse “Braaidag”, of Erfenisdag, waar ons weer gesien het watter groot rol kos, en veral braaivleis, in ons kultuur en land speel.
Die afgelope paar maande kon ons hier vanaf Stellenberg-gemeente baie kos aan mense wat dit baie nodig gehad het, voorsien. Die Covid-19-pandemie, wat veroorsaak het dat baie mense nie by hul werk kon uitkom nie, het ’n groot krisis veroorsaak en ons kon deur middel van die goedgunstige bydraes van lidmate in baie mense se kosnood voorsien.
Vir Jesus was kos ook baie belangrik! Nie net vir Homself en Sy eie gebruik nie, maar veral om dit te deel met mense wat werklik honger was. Dink maar net aan verskeie verhale in die Bybel waar Jesus kos aan mense voorsien het, brood gebreek het en dit uitgedeel het. Ook in die verhaal waaruit ons vandag gelees het, sien ons dat Jesus mense wil voed. Ons ken die verhaal. Jesus se dissipels was benoud oor al die mense, en het vir Jesus gesê om hulle weg te stuur sodat hulle kan gaan kos koop. Jesus het toe daarop gereageer: “Nee, gaan julle en gee julle vir hulle iets om te eet.” Ons ken die einde van die verhaal waar Jesus toe broodjies en vissies vermeerder het om ’n honger skade te voed.
Daar is twee belangrike lesse vir ons in die gedeelte. Die eerste is om te besef dat Jesus se hart uitgaan na mense in nood, alle vorme van nood, veral ook in kosnood. Hier sê Hy vir sy dissipels, wat dit glad nie verwag het nie: “gaan julle nou en gee vir hulle iets om te eet.” Gee vir hulle kos. Dit is ’n opdrag wat Hy aan sy dissipels van daardie tyd gegee het, maar ook vir sy dissipels en sy kerk van vandag. Sy opdrag is dat ons moet sensitief wees vir mense se kosnood en hulle voed. Maar Hy sê ook vir sy dissipels en sy kerk van alle tye, gaan julle ook en voorsien aan hulle geestelike honger deur die Evangelie van Jesus te verkondig.
Die tweede saak: Dis opvallend hoe baie Jesus kon doen met so ’n klein bietjie kos wat beskikbaar gestel was. Hy het die aanbod van die broodjies en vissies geneem en dit vermeerder. Hy gebruik die kapasiteit wat beskikbaar is, wat aangebied word vir die voeding van mense, om ongekende hoeveelhede mense daarmee te voed.
Vriende, mense is honger. Mense is baie honger, fisies en geestelik. Jesus se opdrag is baie duidelik aan ons in hierdie teksvers, om veral in ons tyd uit te gaan en om hulle kos te gee.
Gebed
Here, dankie vir al U voorsiening. Dankie dat ons daagliks kos het om te eet. Ons harte gaan uit na die wat dit nie het nie. Help ons om U opdrag: “Gee julle aan hul iets om te eet”, met deernis uit te voer. Amen.