Gedagte vir die dag | Sondag 31 Oktober 2021

1 Korintiërs 3:16. Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie.

Paulus spreek hierdie woorde in die konteks van verdeeldheid.  Alhoewel gelowiges in dieselfde Here en Gees geglo het, het hulle toegelaat dat veral godsdienstige idees en perspektiewe hulle onderlinge gemeensaamheid met mekaar versuur het.  Dit is eintlik nie vir my nodig om enige iets verder te sê nie, omdat ons eie geloofsgemeenskappe vandag nog daaronder ly. Ons beoordeel mekaar binne die kerk op grond van irrelevante perspektiewe. Kan ons dus wel met verskillende perspektiewe met mekaar saamleef. Ja, beslis, maar dit gaan harde werk verg waarvoor mense nie altyd lus is nie, omdat ’n mens voel dat jy te veel in die proses moet prysgee. Dan oordeel sommige boonop dat godsdiens juis van jou verg om op jou standpunt en beginsels te staan.  ’n Paar verse later vermaan Paulus ons dat dit die Here is wat ons beoordeel en dat ons daarom nie te vroeg, voordat die Here kom, mekaar moet beoordeel nie.

Gebed

Deur die ewige reg van u oordeel, deur die openbaarmaking van onreg, deur die oorwinning van u lig oor die duister, deur die genadige ontferming oor die weerloses en die ontsagwekkende oormag van u liefde vra ek Here – transformeer my eie onheiligheid tot goeie dade, herstel wat ek verwoes het en vergewe my oortredings. En gee ons vrede Here. AMEN