Gedagte vir die dag | Sondag 31 Januarie 2021

Johannes 15:16-17.  “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in My naam vra. Dit beveel ek julle: Julle moet mekaar liefhê.”

Ons worstel dikwels met die vraag: Wat is die Here se wil vir my lewe? Wat wil Hy hê moet ek doen? En dan maak ons dit baie ingewikkeld deur allerhande opsies te oorweeg en verskillende scenario’s te skets. Wat is dan nou die Here se wil, tussen al die moontlikhede? Johannes maak dit vandag vir ons baie eenvoudig. Die Here het elkeen van ons met unieke persoonlikhede, gawes en talente geseën. Sy doel daarmee was juis om die lewe om jou ’n unieke kleur en geur te gee. Ons is deur God aangestel om in die vrug hiervan te leef en spontaan lief te hê. Hoe raak hierdie opdrag vandag jou lewe?

Gebed

O God, soos U die hand gemaak het om aan te raak; soos U die oor gemaak het om te hoor, só het U my gemaak vir vreugde! O Here open dan my hart sodat ek die blydskap van U opdrag om ’n lewe van vrug en vreugde te leef, kan vind.

AMEN.