Jona 4:1. Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.
In vandag se teks skop Jona vas teen die Here se opdrag om hulle vyande, die Assiriese stad Nineve te waarsku sodat hulle behoue kan bly. Die gedagte is vir Jona so erg dat hy eerder kies om te sterwe as om van besluit te verander. Is Jona ernstig of probeer hy God manipuleer? Ek dink dit het met die laasgenoemde te doen. Onderhandel ons ook somes soos Jona met die Here om ons sin te kry? Ek dink tog so. . . dit is nie vir ons maklik om van besluit te verander wanneer ons sterk in iets glo nie. Ons mag dalk juis so oor ons geloof dink . . . dat ek moet vashou aan wat ek dink ek glo, maar as ons na verhale soos Jona in die Bybel kyk besef ‘n mens daar is tog iets meer. Geloof is eerder om God voordurend toe te laat om ons te vorm sodat ons kan groei en verander. Dit het die Reformasie ons in hierdie maand meer as 500 jaar gelede geleer. Een van die beginsels daarvan was die woord Semper Reformanda wat beteken dat die Here ons voortdurend aanspoor om in die lig van ons omstandighede te reformeer sodat ons relevante lewens kan leef. Hoe praat Jona se hardkoppigheid vandag met ons? Wat wil die Here hê moet jy heroorweeg?
Gebed
Doen slegs U wil Heer, U wil met my. U Pottebakker, met my die klei. Vorm my en maak my, net soos U wil, op U bly wag ek nederig en stil. Amen.