Die briefskywer Paulus het op ’n slag geskryf oor ons daaglikse stryd met die dood en die lewe. Hy skryf in Filipense 3 “Al wat ek wens, is om Christus te ken, om die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood. Vir Paulus was die krag van die opstanding en die deelname aan die lyding een. Ons ken nie die een sonder die ander een nie.
Wat ek dink ten diepste op die spel is, is die vraag na wat werklik nut, waarde en betekenis het. Wat die moeite werd is om na te jaag, aan vas te klou en uiteindelik voor te lewe. Paulus skryf op ’n ander plek dat die opstandingslewe te doen het met die losmaak van wat agter is en die uitstrek na wat voor is. Om te ontdek dat dit wat eers saak gemaak gemaak het, nou nie meer so belangrik is nie. Paulus skryf vir hom is dit om Christus te ken. So wat sal ons dan sê is die nut van die opstanding? Ek dink dit laat ons nuut dink oor nut en wat waarlik nut het en wat betekenisvol is.
Mag ons vandag diep reflekteer oor dit wat ons ook wil nalaat, agterlos en na wie ons wil uitstrek – na Hom wat voor ons is.