Gedagte vir die dag | Sondag 3 April 2022

 

Mark 15:14-15.  “Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” Vra Pilatus hulle.

Jesus het altyd met genade en barmhartigheid teenoor mense opgetree. Hy het nie mense gedreig, verkleineer, of veroordeel nie. Hoe is dit dan dat die skare Joodse godsdienstiges buite Pilatus se woning sy dood gesoek het? Watter kwaad het hy gedoen?  Vandag se teks konfronteer ons met die kwaad wat alewig besig is om die goeie om ons te bedreig. Toe die soldate Jesus in die tuin van Getsemane gevangene wou neem het Petrus sy swaard uitgepluk en ’n soldaat se oor afgekap. Hy wou die regte ding doen deur die goeie te verdedig. Toe Jesus aan die kruis sterf, was sy laaste woorde: “Vader vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”. Ons stryd teen wat ons as die kwaad sien en in ons verdediging van wat ons glo reg is, kan ons selfs besig wees om die verkeerde ding te doen. Dit is omdat die einste kwaad waarteen ons baklei ons dikwels gevange neem wanneer ons met vooroordele, haat, woede en ongeduld reageer. Terwyl ons reg wil laat geskied beoordeel mense en situasies dan verkeerd.

Jesus het geweet dat Lig uiteindelik oor die duisternis sal seëvier en dit aan God oorgelaat om die pad met hom verder te stap. Hoe reageer ons oor die kwaad om ons?

 

Gebed

Here, ons weet dikwels nie wat ons doen nie. Ons wil die goeie laat seëvier, maar laat toe dat vrese, selfsug en eiesinnigheid ons oorneem. Here, help ons om in die daaglikse realiteit van kwaad te leef sonder om self kwaad te word. Bedaar die emosies wat so sterk in ons leef sodat ons met wysheid en insig dit wat verkeerd is tegemoet kan gaan. Vergewe ons en help ons om uit die krag van u vergifnis die regte ding te doen.