Gedagte vir die dag | Sondag 29 Augustus 2021

Romeine 5:3-5: “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Ons het gister stilgestaan by die teksvers in Jakobus oor volharding. Daaruit het dit duidelik geblyk dat uitdagende situasies, swaarkry en lyding tog ’n vreemde uitkoms kan lewer. Dit is soos loutering wat plaasvind wanneer ek dit die minste verwag.  Elkeen van ons het waarskynlik ’n verhaaltjie oor hoe ons by moeilike omstandighede baat gevind het sonder dat ons dit noodwendig agtergekom het. Dit was soos ’n slypingsproses van my persoonlikheid, my karakter, maar veral ook van my geloof.

By verskeie plekke in die Bybel word die woord “loutering” gebruik. Daar word dan verwys na vuur wat goud of silwer kan louter. Dit moet juis deur die vuur gaan, om suiwer aan die anderkant uit te kom. Steve Green, ’n bekende gospelsanger, het ’n baie bekende lied geskryf met die titel: “The Refiner’s fire.” Daarin verwys hy ook na hierdie vuur van loutering waardeur ons gaan, en dan uiteindelik ook die positiewe, vreemde gevolg wat dit in ons lewens kan hê. Hoe dit ons as’t ware kan suiwer tot iets beter as voor die vuur. Die koor gedeelte van die lied van Green is soos volg:  “The Refiner’s fire has now become my soul desire. Parched and cleansed, and purified, that the Lord be glorified. He is consuming my soul, refining me, making me whole, no matter what I loose.”

Paulus, soos Jakobus sien dit ook in, en weet dat die vasbyt, die volharding midde in die moeilikste omstandighede, bring iets suiwer en mooi na vore. Die teksgedeelte van vandag stel dit baie duidelik: “Ons verheug ons in swaarkry, (sjoe kan dit moontlik wees?!), want ons weet, swaarkry kweek volharding. En volharding kweek egtheid van geloof. Dit het ’n uitwerking op die kwaliteit en egtheid van ons geloof. Dit suiwer dit uit. Dit maak dit baie gefokus. Dan nog die wonderlike uitkoms uit hierdie gesuiwerde geloof: Paulus sê: “en hierdie egte(gelouterde) geloof, dit is wat hoop in ons kweek.”

Vriende, kom ons hoor dit en hou opnuut daaraan vas. Dit is nie lekker om swaar te kry nie! Dit is nie lekker om deur ’n klomp uitdagings en negatiewe goed te werk nie. Maar kom ons soek die positiewe daarin deur te ervaar hoe dit ’n impak op ons geloof het en hoe ons gesuiwerde geloof, ook hoop kan bring!

Gebed

Here, ons dank u vir die moeilike tye. Help ons om in dit alles te besef dat U besig is met ons, dat ons geloof gelouter  word om vir ons die hoop te bring.

Amen.