Johannes 15:14. “Dit is julle wat my vriende is, as julle doen wat ek julle beveel.”
En dan het Dave Tyson Gentry gesê: “As die stilte tussen twee mense, ’n gemaklike en gemoedelike stilte is kan jy maar weet dat hul vriendskap diep en eg is.”
Dis die laaste Sondag wat ons nie amptelik bymekaar in ’n kerkgebou bymekaar gaan kom nie. Vanaf volgende Sondag gaan ons bymekaar kom, maar ek dink baie van ons het ’n ander ritme, tydens die grendeltyd, op ’n Sondag gehad – meer tye vir stilwees en saamwees as wat dit in die week was.
Dit het my laat dink aan die twee boere wat saam gekuier het. Hulle het so met mekaar gesit en gesels en dan het die een gesê: “Ja . . . ” En dan na so minuut of twee het die ander een weer geantwoord: “Ja . . .”, en dan so na twee of drie minute is die gesprek weer op dieselfde trant herhaal. Die een se vrou het gesê: “Luister, hier het ’n nuwe buurman ingetrek en julle kan gerus die man oornooi om deel van julle vriendskapskring te raak, en so het hulle die man toe genooi, en die een het gesê: “Ja . . . “, en na ’n minuut het die ander een weer gesê: “Ja . . .” en die derde man antwoord toe ook maar weer met ‘n “ja . . .”. Na afloop van die gesprek vra die boer se vrou toe hoe die saamkuier verloop het. Die boer het geantwoord, “ja wat, hy is heel oraait, maar ons gaan hom nie weer nooi nie, hy praat hopeloos te veel!”
Stilte kan ook praat. Soos die rus en kalmte van ’n tuin, waar jy jouself ookal in die wêreld bevind. Ons het die afgelope tyd stilgestaan by die reeks oor berge. Berge wat jou met stiltes verbind. Stiltes om jou te laat dink, jou weerloosheid te laat besef en jou anders na jouself te laat kyk. Eeue gelede het ’n moedelose Eliah dit ondervind toe hy vir Jesubel moes vlug en hom eensaam op die berg bevind. Dis die teks waarby ons ook in vandag se prediking gaan stil staan. Daar kon hy God nie midde in ’n stormwind, of aardbewing, of in ’n vuur vind nie. Eers later in Konings 19:12, was daar ’n fluistering in die windstilte en daar het Eliah God se stem gehoor.
Pinkstertyd sê dat God deur Sy Heilige Gees in elkeen van ons wil woon. Hy wil spesifiek by elkeen van ons woon, ons troos, ons lei, en altyd by ons bly. In die stormagtige tye van ons lewens, wil die Heilige Gees die kalmte van ’n windstilte in ons harte bring. Hy wil soos ’n duif op ons neerdaal, soos waarna Johannes die doper in Johannes 1:32 verwys. Paulus het aan ’n groepie gelowiges wat hy in Korinte raakgeloop het, gevra: “Het julle die Heilige Gees gevind toe julle gelowig geraak het? Hullle het geantwoord dat hulle nog nie eens gehoor het dat die Heilige Gees gekom het nie”, Handelinge 19:2. Die Heilige Gees is God wat in ons woon. Hy wil stilte en vrede na ons toe bring soos die stilte tussen twee mense wat gemaklik met mekaar is. Hy wil met ons kom praat, sodat ons kan stil word en dan saam met Fondel vra, “Kom, kom, kom, drie maal o Heilige Geest, Ei shigen onse pinksterfees, kom tortelduif van hemelsdak, en bring ons die olyfentak!
Mag God se Gees vir ons die olyftak bring, dat ons plekke en tye ondervind waar ons sy Gees kan erken en herken.
Gebed
Here dankie vir die werking van die Heilige Gees in ons lewens. Gee vir ons tye en plekke waar ons U kan hoor praat.