Markus 14:3 3Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar ‘n vrou gekom met ‘n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet.
Jesus is ‘n gas by ‘n feestelike maaltyd in die huis van Simon. Tydens die maaltyd kom daar ‘n vrou na Jesus toe. Dit is Maria, die suster van Lasarus en van Marta. Markus noem nie haar naam nie, want dit gaan vir hom nie oor wie sy is nie, maar oor wat sy gedoen het. Sy het naamlik ‘n fles met nardussalf by haar. Nardussalf was ‘n baie duur parfuum wat vervaardig is van die blare van ‘n plantjie wat in Indië groei. Wanneer sy vervolgens die fles se breek, wys sy daarmee dat sy die hele inhoud gaan gebruik, en nie slegs ‘n paar druppels nie. Sy giet alles oor Jesus uit. Oor sy kop, en van daaraf vloei dit af oor die res van sy liggaam.
Met die eerste oogopslag is daar iets verkwistends in hierdie handeling, die disspels is daarom ook nie baie gelukkig nie. Parfuum het immers die doel om ‘n persoon lekker te laat ruik, en daarvoor het jy net ‘n druppel of wat nodig, beslis nie ‘n hele fles nie. En daarom lug hulle ook hul verontwaardiging – hier is ‘n klein kapitaal wat verlore gaan sonder enige nut. Wanneer die vrou die res van hierdie salf sou verkoop het, sou dit ‘n bedrag opgelewer het wat ‘n dagloner omtrent in ‘n jaar verdien het. Kan sodanige luuksheid teenoor die armes verantwoord word? Jesus het sy volgelinge dan juis geleer om vir die armes te sorg. Binne hierdie konteks lyk die optrede van die vrou onvanpas.
Maar Jesus oordeel anders: “sy het ‘n goeie werk aan My gedoen.” Volgens Jesus is die groot hoeveelheid salf wat sy gebruik geen verkwisting nie, maar eerder ‘n voorbereiding vir Sy begrafnis. Jesus kyk egter anders en nooi ons uit om anders te kyk. Hy sien waarde in almal, selfs in Simon. Jesus sien waarde in dié vrou, teen die konvensies van sy tyd, en aanvaar haar liefde vir hom met grasie en genade. En haar lewe word daardeur verander. Dit nooi ons ook om met oë van liefde na ander mense te kyk.
GEBED
Hemelse Vader dankie dat U ook al my sonde vergewe het. Help my om na ander uit te reik. Help my ook om met sagte oë na ander mense te kyk. Amen