1 Johannes 2:2.Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld
Ons praat dikwels daarvan dat ons as gelowiges moet getuig. Wat sou dit beteken? Moet ons ’n tipe gedrag wat deur moraliteit gekenmerk word, promofeer? Is dit wat Christene vandag kenmerk? Moet ons mense probeer oortuig om meer godsdienstig te wees en gereeld kerkdienste by te woon? Wat is Christene se getuienis en wat hoop ons om daardeur te bereik?
Een van Paulus se diepste insigte wat sy lewe verander het was dié gedagte in Romeine 3:23, “almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing van Jesus Christus”. Oral waar Paulus gekom het, het hy eenvoudig hierdie realiteit, wat hy self beleef het, met mense gedeel. In 2 Kor. 5:18 sê Paulus dat hierdie boodskap van versoening aan ons toevertrou is en dat ons dus as gesante van Christus optree.
Om dus te getuig beteken om eerstens die genade van die Here vir ons eie onvolmaaktheid te ontdek en hierdie vergifnis wat ons van God ontvang het ook met ander te deel. Die Here maak reg wat stukkend en seer is. Dit moet ons in woord en daad verkondig. Wat het jy om vandag te getuig?
Gebed
Neem my lewe laat dit Heer
U gewy wees meer en meer
Laat my hart gedurig juig
En van dankbaarheid getuig
Neem my hande, maak hul sterk
Diensbaar in U goeie werk
Neem my voete skoei hul Heer
Met bereidheid tot U eer
Neem my stem en laat my sing
Aan U Here hulde bring
Laat my mond die boodskap dra
Hul sal vind wat na U vra