Gedagte vir die dag | Sondag 24 Oktober 2021

Markus 10:27 “Jesus het hulle reguit aangekyk en sê toe: “As dit van mense afgehang het, sou dit onmoontlik gewees het om gered te word. Maar omdat dit van God afhang is dit moontlik want God kan enigiets doen.”

Ek wil nog kyk hoe die weervoorspelling vir volgende Sondag die 31ste lyk met die oog op ons buitelugdiens en ek nooi julle vroegtydig daarna uit. Deesdae is die weervoorspelling wat ons op ons fone kry taamlik akkuraat en dit het my laat dink aan die ou dae en die weerberigte van daardie tyd. Ek het iets gelees oor een van die destydse weerberigte wat lui: “dit spyt ons dat ons nie in staat is om u die weerberig te gee nie, omdat ons staatmaak op weerberigte vanaf die lughawe wat tans as gevolg van die weer,  gesluit is.  Of ons môre aan u die weerberig sal kan gee, hang van die weer af”.

Hierdie weerberig is destyds in 1979 vanaf ’n Arabiese nuusstasie in Jedda uitgesaai.  En wat ons ook al van hierdie weerberig mag dink, een ding staan vas, by luisteraars het dit groot twyfel gelaat oor die verwagte weerstoestande.   Twyfel is die groot vyand van ons almal se gemoedsrus. Dit raak elke aspek van ’n mens se lewe. Twyfel en onsekerheid oor jou gesondheid as jy ’n kankertoets moet laat doen en jy weet nie of dit positief gaan wees nie. Twyfel oor die sukses van ’n nuwe onderneming wat ’n mens aanpak. Die uitslag van ’n eksamen, die opbrengs van ’n oes. Twyfel oor jou finansiële posisie as dinge nie reg loop nie. Die afgelope meer as ’n jaar het ons juis hierdie onsekerheid oor baie goed beleef. Dit geld ook in ons geloofslewens en ons verhouding met God.

Blaise Pascal, die Franse wetenskaplike en wysgeer van die 17de eeu het blykbaar ’n rowwe en wilde lewe in Parys gelei. Hy was glo diep ongelukkig voor die nag van 23 November 1654 toe hy tot bekering gekom het.  Na sy dood is ’n handgeskrewe weergawe van dié ondervinding in die soom van sy baadjie gevind. In die notas wat hy altyd by hom gedra het vertel hy hoe hy van die lyding van Jesus gelees het.  En van Petrus wat vir Jesus drie maal verloën het en tog het Petrus vergifnis ontvang en dit het ’n lig vir Blaise Pascal laat opgaan.  Hy het besef daar is ook vir hóm hoop.  Daarom skryf hy in sy notas: sekerheid, sekerheid, sekerheid.  Vreugde van Jesus Christus.  Vreugde, vreugde, vreugde.  Trane van vreugde skryf hy.  Die sekerheid wat ons in Jesus Christus het wat uit die dood opgestaan het.

Later het Pascal ’n kampvegter vir die evangelie geword wanneer hy skryf dat Jesus nie net gekom het om die mense te oortuig van hulle sonde nie, maar gekom het om hulle te verlos.  Om vir hulle lig te bring en hulle te heilig.  Dit klink nie na ’n onsekere weerberig nie maar na ’n boodskap waaroor niemand hoef te twyfel nie.  Daarom kan ons vanuit die sekerheid van ons geloof vir Jesus Christus leef.  Die gedeelte wat ons gelees het getuig daarvan en ook Hebreërs 10:23 sê ondermeer laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou, Hy doen wat hy beloof het. Wat Hy beloof is nie onsekerheid nie, maar ’n sekerheid. Daarom kan ons vanuit hierdie sekerheid leef.

Gebed

Here, dankie dat ons vanuit u oorvloed en teenwoordigheid, elke dag kan aanpak.

Amen