Ek lees as oggendgebed Van Wyk Louw se bekende gedig, Herfsgebed. Mag sy woorde ons laat reflekteer oor hoe die seisoen waarin ons nou is ook ‘n boodskapper is van die seisoene van ons eie lewe. En soos met elke seisoen is daar dalk goed wat eindig sodat iets nuuts kan begin. Soos lewe uit die dood. Mag sy woorde ons hieroor laat nadink.
Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.