Gedagte vir die dag | Sondag 23 Mei 2021

In ritme met God:

Ek hoor nou die dag iemand sê: “ Ek is so dankbaar ek het hierdie werk gekry, want ek het so hard daarvoor gebid.”  Dit het my laat dink aan die manier hoe ons na God kyk.  Ons dink steeds aan God as die ou oom met die wit baard wat die wêreld van ’n afstand af met ’n kontrole beheer.

As ’n predikant het mense my al baie oor my roeping vir die bediening uitgevra.  So asof ek nie beheer het oor waarheen ek gaan nie, maar dat God besluit waar ek moet wees.  Ek glo ek het ’n roeping, maar volgens my is my roeping om in ritme te wees met wat God doen.  Waar en hoe dit gebeur – wel ek glo dat God my die keuse gee om self daaroor te besluit.  Ek wil dit met ’n orkes wat musiek maak, vergelyk.  God gee vir ons die ritme, hoe ons speel is ons eie keuse.

Jesus gebruik hierdie bekende metafoor om iets van ons konneksie met God te verduidelik:

Johannes 15: 5. “Ek is die wingerdstok, julle die lote.  Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog.  Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.  7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Jesus sê hier vir ons dat om deel van God se wingerd te wees en in ritme te wees met wat Hy doen, aan ons lewe gee.  Om uit ritme te leef, lei ons na stukkende verhoudings en seer kry.  Indien ’n mens wonder oor hoe God se ritme lyk kan ’n mens aan die vrug van die Gees dink: Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, sagmoedigheid, getrouheid en selfbeheersing.

Gebed:

Here, dankie dat U die keuse oor hoe ons saam met U musiek maak aan onsself oorlaat.  Dankie dat U vir ons die ritme gee en dat ons kan saam speel.   Ons bid vandag dat ons meer en meer in ritme sal kom met waarmee U in 2021 besig is.

Amen