Gedagte vir die dag | Sondag 21 Maart 2021

Johannes 6:66: “Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie?”

Gedagte: Fan or follower? Wat ’n  belangrike keuse!

Miskien een van die belangrikste keuses wat ons ooit in ons lewens moet maak, is of ‘n mens ’n “fan” van Jesus, of ’n “follower” wil wees? Hierdie vraag het al so baie mense geïnspireer en gekonfronteer dat daar al verskeie TV-programme en boeke oor hierdie tema/keuse die lig gesien het. Is daar ’n verskil om ’n bewonderaar teenoor ’n volgeling te wees.

Ons almal ken “fans” as dit kom by sport- of supersterre. ’n Mens bewonder dikwels ’n beroemde rugbyspeler, of akteur.  ’n Mens se bewondering vir hom of haar is dikwels gerig op al die goeie dinge wat die persoon kan doen, of talente wat hy of sy tentoonstel.  Wanneer die persoon dan êrens optree of speel, dan klap ek in verwondering hande, sonder dat ek noodwendig die persoon ken. Ek sluit soms uit vrye keuse by sy/haar “fan-club” aan.

’n “Follower” is iets anders. Dit beteken dat ek die pad tree vir tree loop met die persoon wie ek wil volg.  Dit is wanneer ’n mens bereid is om jou lyf op die spel te plaas, om bepaalde opofferinge te maak en bereid is om die lewenstyl en karaktereienskappe van die een wat ek volg, aan te neem.

Jesus het verseker ook ’n klomp “fans en followers” gehad. Dit was alreeds so toe Jesus nog op aarde was en baie mense hom begin volg het. Baie mense het hom begin volg en hande geklap oor dinge wat hy gedoen het. Hulle het begin om “fans” te word van die wonderwerker, of die geneesheer, die goeie Rabbi wat uitstekende preke gelewer het. Hulle het op die  kantlyn gesit en luister, of gestaan en kyk en hande geklap vir die goeie goed wat Hy gedoen het. In verskeie teksgedeeltes in die Nuwe Testament sien ons dat daar baie dissipels van Jesus was, baie leerlinge en baie bewonderaars van die Wonderwerker!

Op ’n stadium het hulle besluit, sê ons teksvers, om weg te draai van Jesus af.  Waarskynlik het hulle begin belangstelling verloor, of hulle het iemand anders raakgesien wat meer opwindend was en vir wie hulle eerder wou gaan hande klap. Miskien was hulle afgeskrik deur die geweldige eise wat Jesus aan die mense wat Hom wou volg, gestel het. Daar het egter ’n paar oorgebly wat volgelinge geword het en wat besluit het om Jesus in sy spore te volg, om sy eise vir dissipelskap en volgelingskap op hulle te neem. Om die kruis saam met Hom te dra en opofferings te doen.

Dit is vandag steeds die geval. In die Christen-gemeenskap is daar ook duidelike “fans en followers.” Daar is derduisende mense wat hul name opgee as Christene, bewonderaars van die goeie werke en dade wat Jesus gedoen het. Selfs in die kerk is hulle daar om Jesus te bewonder en om te kyk wat hulle dalk uit die transaksie kan kry.  Maar wat Jesus soek is mense wat agter Hom sal aanloop, wat in sy ritme sal kom en die skaafmerke van sy kruis op hul skouers sal voel omdat hulle die opofferings maak wat Jesus van hulle vra.

As jy vandag na jouself kyk, na jou eie toewyding aan Christus, die praktyk van jou Christelike geloof, is jy ’n “fan” of “follower”?

Gebed

Here, help ons om vandag ook hierdie belangrike keuse te maak. Help ons om nie net hande te klap vir die goeie dinge wat gedoen is, of die wonderwerke wat U verrig het nie, maar dat ons werklik in die stofpad agter U  sal aanloop, omdat ons volgelinge van ons Meester wil wees.

Amen.